Local newsSportSport

Klub-50 sê hallo Kazlo

Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Vir ‘n hedendaagse klubspeler om 50 eerstespan-wedstryde vir ‘n rugbyklub te speel, is ‘n rare verskynsel. Die 27-jarige Kazlo Holtzhauzen van die NWU Vaal Rugbyklub is een van min spelers wat daarop kan aanspraak maak. Hy het as speler en meer onlangs ook as hulp- en skopafrigter diep spore op …

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Vir ‘n hedendaagse klubspeler om 50 eerstespan-wedstryde vir ‘n rugbyklub te speel, is ‘n rare verskynsel.
Die 27-jarige Kazlo Holtzhauzen van die NWU Vaal Rugbyklub is een van min spelers wat daarop kan aanspraak maak.
Hy het as speler en meer onlangs ook as hulp- en skopafrigter diep spore op die oewers van die Vaalrivier getrap.
“Daar is net ‘n unieke ‘vibe’ tussen die ouens. Dit is soos ‘n broederskap wat ‘n mens nie kan verduidelik nie, maar die hoofrede is die bestuur wat by NWU Vaal is. Hulle probeer regtig om ‘n tradisie en kultuur te skep wat vir jare sal voortbestaan,” bieg die gebore en getoë Meyertonner.
As spanspeler kan jy ook nie vir ‘n beter kandidaat vra nie. Hy is nie verniet in 2019 as NWU Vaal se Klubspeler van die Jaar en die Eerstespan se Agterlyn Speler van die Jaar aangewys nie. Hy steur hom ook bitter min aan persoonlike mylpale. “Dit gaan nie vir my oor die aantal punte wat agter my naam is nie. Dit gaan vir my oor wat ek vir die span kan doen,” sê hy.
As losskakel en stelskopper het hy weekliks die telbord aan die rol gehou, maar hy erken ruiterlik dat dit makliker is om te speel as om af te rig.
“Dit is moeiliker om af te rig, want as jy speel, maak jy ‘n verskil op die veld. As jy afrig is dit moeilik om dieselfde impak te hê, want jy staan langs die kant.
In sy laerskoolloopbaan het hy op sokker gefokus, maar tydens sy eerste jaar op hoërskool by die King Edward School in Johannesburg het sy liefdesverhouding met die spel met die ovaalbal begin. Sy agtergrond as sokkerspeler het van hom ‘n meer afgeronde en vlugvoetige rugbyspeler gemaak. “Die persoon wat die grootste invloed op my as sperler gehad het, is my hoërskoolafrigter, mnr. Spilhaus. Hy is steeds by die Goue Leeus se Cravenweek-opset betrokke. Hy is oopkop en hy het altyd sy spelers kans gegee om hulself op die veld uit te leef.” Hoewel die uitbreek van Covic-19 wêreldwyd deelname aan sport in die wiele ry, sien hy daarna uit om hom verder as ‘n afrigter te bekwaam. “Ek het my IRB-vlak 1 voltooi en wil graag na die pandemie myself verder as afrigter kwalifiseer.”

Kazlo kap dit flou! Kazlo Holtzhauzen is
onlangs in Vanderbijlpark as NWU
Vaal se Klubspeler van die Jaar en
Eerste span Speler van die Jaar gekroon.
Hy het ook ‘n toekenning vir
vyftig eerste span wedstryde ontvang.
By hom is Shaun Meijer, voorsitter van
die NWU Vaal Rugbyklub.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button