Twee Valies help Curriebeker wen
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Die meeste Vaaldriehoekers het Saterdag hulle provinsialisme opsy geskuif om twee van hul lieflingseuns te ondersteun. Marco Jansen van Vuren en Elrigh Louw het rugbygeskiedenis gemaak toe hulle die naweek die Blou Bulle op Loftus Versveld gehelp het om die Carling Curriebeker te verower. Die Blou Bulle het die Sharks …
Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Die meeste Vaaldriehoekers het Saterdag hulle provinsialisme opsy geskuif om twee van hul lieflingseuns te ondersteun.
Marco Jansen van Vuren en Elrigh Louw het rugbygeskiedenis gemaak toe hulle die naweek die Blou Bulle op Loftus Versveld gehelp het om die Carling Curriebeker te verower.
Die Blou Bulle het die Sharks in ‘n naelbyteindstryd in ekstra tyd met 26-19 geklop.
Na 80 minute se spel was die telling 19-19 gelykop gewees, waarna 18 fases se spel laat in ekstra tyd uiteindelik met ‘n wendrie deur die plaasvervanger flank Arno Botha, beloon is.
Marco (veelsydige agterspeler) en Elrigh (flank) is albei twee oudleerlinge van die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n skool van die Vaaldriehoek met twee spelers in die eindstryd van die Curriebeker spog.
Die skool het oor die jare al verskeie provinsiale, Super Rugby en junior en senior Springbokspelers opgelewer.
Die bekendste hiervan is natuurlik die voormalige Springbokkaptein, Francois Pienaar, wat in 1995 saam met sy span die Wêreldbeker verower het. Nie te vergeet van Stephen de Wit en Franco Marais wat onderskeidelik Super Rugby gespeel het.
Franco het op haker ook vir die SA B-span uitgedraf. Dan moet daar nie van Lloyd Greeff vergeet word nie. Hy het vir die SA o.20’s en vir die Cheetahs in die Pro 14 gespeel.
Hy is tans saam met Herman Venske (voormalige Springbok-atleet en Blou Bul-rugbyspeler) in beheer van kondisionering by die Hoërskool Transvalia.
Valia gaan later vanjaar sy nuwe Hoë Prestasie Sentrum amptelik open en mens kan net wonder watter sportysters hier gesmee gaan word.
Volgens Jaco Kok, direkteur van rugby by die Hoërskool Transvalia, is hy baie trots op die twee Valia-manne (Elrigh en Marco). Hy het onderskeidelik in 2013/14 vir Marco en in 2016/17 vir Elrigh op eerste-spanvlak afgerig.
Daar word in rugbykringe voorspel dat Louw grootgemaak word om eendag by Vermeulen oor te neem.
“Marco en Elrigh is fisieke spelers wat ongelooflik hard werk. Hulle speel op daardie vlak oor hulle werksetiek en fisiekheid,” gee Kok te kenne.


