Kookwater-krieket
VANDERBIJLPARK. – Wanneer mens die letters LMS langs mekaar sit, is dit ‘n afkorting vir groot krieketpret. Die eindstryd van die plaaslike Last Man Stands (LMS) se A-liga wat Sondag, 27 Junie op Old Vaaltonians se velde beslis is, het dié stelling beaam. Infinite krieketspan het die 46ers met 21 lopies in ‘n spannende eindstryd …
VANDERBIJLPARK. – Wanneer mens die letters LMS langs mekaar sit, is dit ‘n afkorting vir groot krieketpret. Die eindstryd van die plaaslike Last Man Stands (LMS) se A-liga wat Sondag, 27 Junie op Old Vaaltonians se velde beslis is, het dié stelling beaam. Infinite krieketspan het die 46ers met 21 lopies in ‘n spannende eindstryd geklop. Daren van Aarde (54*), Ettiene le Roux (37*) en George Smit (31) was die wenspan se top lopievrate. Infinite het eerste gekolf en 222/3 in die toegelate 20 beurte aangeteken, waarna die 46ers tot 201/6 beperk is.
Hansie Thessner (2/17) van Infinite was die top bouler in die eindstryd. Vir die 46ers het Johnny van Aswegen (45), Francois Coetzee (42*) en Buks Gouws (39*) aangeteken. Die 46ers het hulle plek in die eindstryd bespreek nadat hulle die Wolfpack se tjank in die halfeindronde met ‘n sege met 6 paaltjies afgetrap het.
Infinite het op sy beurt harde bene gekou om Boomerang met twee paaltjies in hulle halfeindstryd te klop. Eerskomende Sondag vind die B- en C-liga se halfeindstryde en eindstryde op Cecil Oldridge en Old Vaaltonians se velde plaas. Die halfeindstryde word om 8:30 en 11:30 beslis, waarna die eindstryde om 14:30 plaasvind. * Die nuwe LMS-liga skop op 18 Julie af.




