Skitter seges vir Astros en Rockets
VEREENIGING. – Die ringkoppe van Sedibeng krieket kan rustig slaap. Die toekoms van ons geliefde spel met die rooibal is in goeie hande. Met laerskole skolesport wat tans nie plaasvind nie, verskaf die T20 Blast-reeks wat van 13 tot 29 Augustus aangebied word broodnodige oefening in wedstrydverband vir o.11 en o.13-spanne. Stephan de Villiers, die …
VEREENIGING. – Die ringkoppe van Sedibeng krieket kan rustig slaap.
Die toekoms van ons geliefde spel met die rooibal is in goeie hande. Met laerskole skolesport wat tans nie plaasvind nie, verskaf die T20 Blast-reeks wat van 13 tot 29 Augustus aangebied word broodnodige oefening in wedstrydverband vir o.11 en o.13-spanne.
Stephan de Villiers, die organiseerder van dié reeks, is ‘n voorstander van junior krieketontwikkeling in die Vaaldriehoek.
Die gesogte Sedibeng Premier Liga (SPL) is ook sy breinkind en getuig van sy ondernemingsgees om laerskole-krieket in die Vaaldriehoek te laat groei en te verbeter. Hy staan ook aan die stuur van die Vaal Youth Cricket (VYC).
Die eerste kragmetings van die Blast-reeks is Vrydag en Saterdag op Verref se velde beslis en het vir hope opwinding gesorg. Hoewel die VYC Rockets (o.11) en VYC Astros (o.13) die Vaaldriehoek se vaandeldraers was met goeie seges in die eerste rondte, was die Saints Christian School van Potchefstroom die verrassingspakkie.
Die Rockets het die verrigtinge Vrydag in ‘n sege met 47 lopies oor die ACC Spartans afgeskop. Die Rockets het 182/3 aangeteken danksy spogbydraes deur Caleph Laubscher (43) en Jaques Viljoen (35).
Die besoekers is daarna tot 135/9 in die toegelate 20 beurte beperk.
Die Saints se o.11-span het Saterdagoggend hul veldtog met ‘n oortuigende sege met 8 paaltjies oor die VYC Blasters afgeskop. Die besoekers se flink hardloopwerk tussen die penne en dissipline in die veld was opvallend.
In die tweede kragmeting van die dag was die VYC Atros se o.13’s met 35 lopies baas teen ACC Starship. Die Astros het 172/4 aangeteken, waarna die besoekers tot 137/8 beperk is.
Daarna het die Saints se o.13’s die besoekers van Potchefstroom se segetog voortgesit toe hy die Kollegepark Reds in ‘n naelbytstryd met vyf paaltjies geklop het. Die Reds het eerste gekolf en 122/8 in die toegelate 20 beurte aangeteken. Die enigste roos tussen die dorings, Dedrei van Rensburg (34) het met die hoogste telling vir haar span die toeskouers met goeie houespel laat besef dat sy nie daar is om slegs getalle vol te maak nie.
Die Saints het daarna danksy ‘n ankerbeurt deur Khumo Nyokong (52*, 8×4) die teiken met drie aflewerings en vyf paaltjies in die bank verbygesteek.
* Die bepalings vir die volgende rondte is: 20 Augustus: 15:00: o.13: KP Reds vs VYC Astros
21 Augustus: 08:30: o.11: ACC Spartans vs VYC Blasters, 11:00: VYC Rockets vs Saints en 13:30: o.13: Saints vs ACC Starship.


