Bullets en Warriors in SPL-eindstryd
VEREENIGING. – Die Bullets en High Speed Warriors het Saterdag op Vereeniging Refractories se velde onderskeidelik die Pirates en Smashers geklop om hul plek in die o.13 T20-eindstryd van die Euro Spar Sedibeng Premierliga te bespreek. Met die Ravens en Dekalb Chargers wat terug is op die wenpad, is die o.11-liga steeds wawyd oop. In …

VEREENIGING. – Die Bullets en High Speed Warriors het Saterdag op Vereeniging Refractories se velde onderskeidelik die Pirates en Smashers geklop om hul plek in die o.13 T20-eindstryd van die Euro Spar Sedibeng Premierliga te bespreek.
Met die Ravens en Dekalb Chargers wat terug is op die wenpad, is die o.11-liga steeds wawyd oop.
In die o.11-afdeling is die Dekalb Chargers en die Ravens met 6.7 ligapunte bo-aan die punteleer. Albei het egter een meer wedstryd as die ander spanne gespeel.
Saterdag se vier kragmetings het weer onderstreep dat daar geen tekort aan kriekettalent in die Vaaldriehoek is nie.
Die Ravens o.11’s met ‘n sege met 21 lopies oor die Strikers hul kanse lewendig gehou. Die wenspan het 182/4 aangeteken en daarna die Strikers tot 161/7 beperk.
Vir die Ravens het Jacques Oosthuizen (50 van 39b) en Jacques Viljoen (50 van 23b) met die kolf geskitter.
Vir die Strikers het Tertius Steyn (52) en Rohan Forrester (44) ‘n lekker grondslag gelê, maar die res van die kolwers kon nie daarop voortbou nie.
Die Dekalb Chargers o.11’s het met vier aflewerings oor die wenlopies teen die Blue Tornados gemoker.
Die Tornados het die loot gewen en 170/7 in die toegelate 20 beurte daargestel, waarna die Chargers met Righardt Kruger (51) en Caleph Laubscher (38) aan die spits, die teiken in die 19de beurt verbygesteek het. Die o.13 High Speed Warriors het op sy beurt ‘n naelbytstryd teen die Smashers met 14 lopies beklink. Die wenspan het eerste gekolf en 156/7 in die toegelate 20 beurte aangeteken.
Die Vaaldriehoek se kolf-koning, Rico van der Walt (35) was die voorste lopievraat. Hoewel die Smashers se beurt gestotter en gestamel het om aan die gang te kom, het middelorde-kolwers Waldo Mclean (43 van 26b) en Charl Olsen (39 van 20b) hul span in die wedloop gehou, maar hulle lopie jaagtog het in die 20ste beurt met ‘n telling op 142/8 tot ‘n einde gekom. Die Bullets het die dag se spel met ‘n sege met 7 paaltjies oor die Pirates afgesluit. Die Pirates het in sy beurt 125/6 aangeteken, waarna die Bullets 127/3 in 18.1 beurte aangeteken het. Zander Olivier (50) en Jaydon Viljoen was die top wilgerlatswaaiers vir die Bullets, terwyl De Wet Grobler (42) moedig vir die Pirates gekolf het.
* Nota: Kolwers in die SPL-reeks verklaar op 50 lopies en mag terugkeer nadat twee paaltjies gekantel het.
o.11: Top boulers:
Corné Bergh (Ravens: 3/44 in 6), Divan van der Bergh (Wicket Wolves: 2/17 in 3) en Damon Kelly Gliddon (Ravens: 2/21 in 4).
Top Kolwers: Jacques Oosthuizen (Ravens: 100* van 78b), Caleph Laubscher (Dekalb Chargers: 89 van 47b) en Jacques Viljoen (Ravens: 83* va 43b).
o.13’s: Top Boulers:
Janco Jacobs (HS Warriors: 5/22 in 5). Nikhil Sukraj (Bullets: 3/29 in 5) en Johandre Bailie (Super Smashers: 3/38 in 5). Top Kolwers: Zander Olivier (Bullets: 102* van 107 b), Janco Jacobs (HS Warriors: 72 (67) en De Wet Grobler (Pirates: 69 van 58b).
Die bepalings vir 6 November is:
07:30: o.13’s: Bullets vs HS Warriors en 10:00: Supers Smashers vs Pirates. o.11 12:30: Blue Tornados vs HS Warriors en 15:00: Wicket Wolves vs Strikers.





