Meyertonners wys hul staal internasionaal
Die driemanskap durf jy nie aan sonder handskoene nie.
MEYERTON – Meyerton lewer steeds wêreldklas kragatlete op, met drie plaaslike name wat tans opslae maak in uiters veeleisende internasionale kontaksportsoorte.
Die beroepsarmdrukker Riekerd Bornman het onlangs een van die grootste oorwinnings van sy loopbaan behaal toe hy die hoog aangeskrewe Alizhan Muratov by East vs West 24 in die Verenigde State geklop het.

Die byeenkoms word beskou as een van die top platforms in die wêreld van beroepsarmdruk, waar elite deelnemers van regoor die wêreld meeding. Bornman, bekend as “The African Lion”, het homself geleidelik as een van Suid-Afrika se voorste armdrukkers gevestig.
Sy oorwinning oor Muratov word as ’n groot deurbraak beskou en versterk sy groeiende internasionale aansien verder.
Hoewel hy nog as ‘n groentjie in die sport beskou word, vestig Bornman hom al hoe meer as ’n aanspraakmaker op wêreldvlak. Die inskrywing op sy Facebookblad na sy sege weerspieel sy ingesteldheid: “Job done 5-0.”
Dan is daar sy 17-jarige boetie Duvan een van Suid-Afrika se ontluikende armdrukkers. Ondanks sy ouderdom het hy al indrukwekkende vertonings gelewer en verskeie titels op nasionale vlak verower.
Duvan word beskou as ’n uitsonderlike talent met enorme krag en tegniek. en baie mens in die armdrukgemeenskap glo hy het die potensiaal om in sy broer se voetspore te volg.
Nog ’n plaaslike atleet wat internasionaal aandag trek, is Danie van Heerden, beter bekend as “Pitbull”.
Van Heerden het naam gemaak in die wêreld van slap fighting, ’n sport wat wêreldwyd vinnig in gewildheid toeneem. Bekend vir sy krag en intimiderende teenwoordigheid, het hy erkenning verwerf as een van Suid-Afrika se mees gedugte deelnemers in dié sport.
Die onlangse ontmoeting tussen Bornman en Van Heerden het weereens die merkwaardige vlak van talent uit die Meyerton-omgewing beklemtoon.
Hul prestasies dien as verdere bewys dat plaaslike atlete met die beste in die wêreld kan meeding wanneer hulle die geleentheid kry.