SportSport

Griekwas eindig bo-aan CB-punteleer, speel gasheer vir Leeus in halfeind

Curriebeker bereik nou die pylvak.

Die Suzuki Griekwas het Sondag in Wellington die Sanlam Boland Kavaliers in Wellington die Carling Curriebeker Premier-afdeling met 48-17 geklop om bo-aan die punteleer te eindig.

Die Griekwas eindig die ligafase met 31 punte, vier meer as die Toyota Cheetahs, wat tweede geëindig het. Die Airlink Pumas (22) en Fidelity ADT Leeus (20) voltooi die top vier op die punteleer.

Die Griekwas speel volgende Sondag in Kimberley om 13:00 teen die Leeus in die eerste halfeindstryd. Die Cheetahs pak die Pumas om 15:30 in Bloemfontein.

Die Leeus moes Vrydag in Johannesburg wen om hul plek in die top vier te behou en het aan dié vereiste voldoen deur die DHL Stormers XXIII met 36-12 te klop.

Die tuisspan het rustyd reeds met 15-0 voorgeloop nadat Matt Coetzee ’n strafskop en verdoels oorgeskop het en Gilermo Mentoe en kaptein Jarod Cairns drieë gedruk het.

Ethan Adams en Renzo du Plessis het ná rustyd verder tot die Leeus se voorsprong bygedra voordat Latica Nela hul vyfde drie gedruk het. Die Stormers XXIII se Markus Muller en Altus Rabe het twee keer agter die doellyn gaan kuier.

In Nelspruit het die Pumas hul halfeindstrydplek  met ’n indrukwekkende sege met 52-26- oor die Cheetahs bespreek.

Die Pumas het met rustyd met 28-7 voorgeloop en uiteindelik agt drieë gedruk. JJ Scheepers en Chyle van Zyl het elk die doellyn twee keer oorgesteek, terwyl Ntsika Fisanti, Tiaan de Klerk, Andre Goedhals en Sango Xamlashe ook punte aangeteken het.

Die Cheetahs het vier drieë gedruk, maar kon nie die tuisspan se aanslag stuit nie.

Die Sharks XV het Vrydag in Durban met 53-22 teen die Vodacom Bulls XV gewen, maar die uitslag was nie genoeg om die uitspeelronde te haal nie.

Tino Mavesere was die groot uitblinker met vier van die Sharks se agt drieë. Ross Braude het twee keer gedruk, terwyl Tim Swiel en Jacques Marais ook die doellyn oorgesteek het.

Die Kavaliers moes Sondag die Griekwas klop om hul kanse op ’n halfeindstrydplek te behou, maar kon ná rustyd nie by die besoekers kers vashou nie.

Boland het rustyd net-net met 19-17 agtergeloop nadat Sibusiso Sangweni en Jayden Bantom gedruk het. Ashlon Davids het twee doelskoppe en ’n strafskop bygevoeg.

Die Griekwas het egter ná rustyd die wedstryd oorheers en 29 onbeantwoorde punte aangeteken. Carl Els, Stefan Coetzee, Lourens Oosthuizen en Gurshwin Wehr het drieë gedruk, terwyl Liam Koen vyf doelskoppe oorgeklits het.

Die Sharks XV het met 18 punte vyfde geëindig, gevolg deur die Kavaliers en Stormers XXIII met 16 elk. Die Bulls XV was laaste met ses punte.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button