Wie grawe die heuwel weg?
’n Heuwel stukkie vir stukkie afgetakel, inwoners soek antwoorde en vrae oor permitte bly onbeantwoord.
VEREENIGING – Inwoners het opnuut kommer uitgespreek oor uitgrawings by die heuwel langs Lethabong en Boiketlong (langs Houtkopweg by TotalEnergies Boiketlong).
Hulle sê die werk beskadig die natuurlike omgewing en ontsier die gebied.
Jeannette Maloka, die EFF se burgemeesterskandidaat, het in ’n plasing op sosiale media beweer dat ‘n oopgroefmyn op die perseel die heuwel afgetakel het.
Sy het ook kommer uitgespreek oor bourommel en grond wat glo na die gebied vervoer word om opgrawings op te vul.


’n Inwoner sê: “Daar is geen wetstoepassing nie. Enigiemand kan doen wat hy wil.”
Die inwoner beweer die heuwels is as klas 1-rif (ridge) geklassifiseer en behoort beskerm te word.
Elize Aucamp, DA-raadslid vir Wyk 45 wat al jare met die saak besig is, het aan Vaalweekblad gesê die eienaar het geen permit vir die bedrywighede nie.

João Geral, die eienaar van die betrokke grond, het in ’n WhatsApp-antwoord aan Vaalweekblad gesê die grond en materiaal behoort aan hom. Hy het ook gevra wat die probleem is.

Vaalweekblad het hom gevra wat uitgegrawe word, waarvoor die materiaal gebruik word en watter permitte of goedkeurings hy vir die werk het.
Geral het ’n advertensie aangestuur waarin G5-materiaal teen R30 per ton te koop aangebied word. Dit word vir paaie, fondamente, opvulling en algemene konstruksiewerk bemark.

Vaalweekblad het ook afskrifte van enige permitte of goedkeurings aangevra.
Geral het nog nie dié vrae beantwoord of dokumente verskaf nie.
Vaalweekblad kon nog nie onafhanklik bevestig of die nodige permitte of goedkeurings bestaan nie.
Inwoners van Houtkop-kleinhoewes het Geral jare gelede van onwettige mynbou op ’n ander eiendom beskuldig.
Hy het destyds gesê hy bou ’n akwaponiese dam op sy kleinhoewe.

Dié klagtes het nie betrekking op die heuwel langs Lethabong en Boiketlong gehad nie.
Geral het ook by ’n vorige geleentheid beweer dat onwettige mynwerkers op sy eiendom bedrywig was.
Navrae oor die huidige bedrywighede is vroeër in Oktober aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gestuur.
Vaalweekblad het teen druktyd steeds vir die munisipaliteit se terugvoer gewag.
