MEYERTON – Die 16-jarige Darius Botha, steratleet van die Hoërskool Dr. Malan, het onlangs twee goue medaljes vir Suid-Afrika by die COSSASA-spele in Bulawayo, Zimbabwe, verower. Die jong veldatleet is ook voorlopig vir die Suid-Afrikaanse atletiekspan vir die Jeug Olimpiese Spele gekies. Botha het goud in die gewigstoot en diskus gewen.


Die Meyerton-atleet het vanjaar reeds die SA Skole o17-gewigstoot gewen en ’n persoonlike beste afstand van 19,71 m aangeteken.
Sy beste diskusafstand van die seisoen is 55,63 m. Botha is een van 10 atlete wat voorlopig vir die Suid-Afrikaanse atletiekspan vir die 2026 Jeug-Olimpiese Spele in Dakar, Senegal, gekies is.
Hy is vir gewigstoot ingesluit. Die Vaal se hamergooi-sensasie, John-Pierre Theron van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, is die ander Vaaldriehoekse atleet wat die voorlopige span gehaal het. Theron het vanjaar ’n persoonlike beste van 73,76 m in die o18-hamergooi aangeteken.
Na aanleiding van die keuringsboodskap wat aan atlete en ouers gestuur is, is die voorlopige span saamgestel volgens die prestasies by die o18-Nasionale Kampioenskap.
Die wenner van ’n betrokke item is volgens die boodskap outomaties vir die voorlopige span gekies, met slegs een atleet per item. Die voorlopige span vertrek volgens die huidige beplanning op 4 November en keer op 14 November terug.
Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) moet die span nog amptelik bekendmaak.
Die Vaaldriehoek se ander atlete wat in Zimbabwe presteer het, is Xanté Harris, Chantelique Smith en Lwandle Dlamini.Harris, die Hoërskool Dr. Malan se langasem, het goud in die 800 m in ’n goeie tyd van 2:11 gewen.
Haar persoonlike beste van 2:10,99 is vanjaar by die Pilditch-stadion aangeteken.
Sy het pas ’n bronsmedalje in 4 km-landloop vir dogters by die ASA-kampioenskap verower om haar stempel verder af te druk.Die 15-jarige Chantelique Smith, spiesgooier van die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark, het ’n silwermedalje in die o18- spiesgooi verower.
Sy het vroeër vanjaar 49,84 m by die SA Skolekampioenskap gegooi en is daarna vir die SuidAfrikaanse span gekies.
Die Vaal se naelloopblits, Lwandle Dlamini van die Laerskool Emfulenipark, het ook in ’n hoër ouderdomsgroep deelgeneem. Die 13-jarige het silwer in die 100 m en 200 m vir o14’s gewen en was deel van die Suid-Afrikaanse aflosspan wat goud verower het.
