SportSport

Rubriek: Van pienk drankies tot 24 karaat Bokke

Die dae van ontvang is verby… die houe word nou uitgedeel. Viva die Bokke!

So daar sit ek Saterdag by een van die Vaaldriehoek gunsteling watergate en eetplekke. Gereed vir die Springboktoets teen die All Blacks. Vir die eerste keer in jare is ek opgewonde oor die rugby.

Nie net omdat ons deesdae die pasaangeër in wêreldrugby is nie, maar merendeels oor die feit dat ek weer in my Springboktruitjie pas.


Die laaste 20 jaar kan ek die hoeveelheid Saterdae wat ek af was op my linkerhand tel. Al ewig besig om een of ander sport af te neem of ‘n werkverwante funksie by te woon. Hierdie Saterdag het ek besluit ek wil tussen mense wees… Ek wil rugby kyk, lekker eet en die ref uitjou. Ons het toevallig naby die deurloop van die kroeg na kleedkamers gesit.


Dit is toe dat daar ‘n eienaardige afstammeling van die Adamsgeslag daar verby wals om waarskynlik plek vir nog ‘n paar biere, of in sy geval ‘n pienk drankie, te maak. Ja, ek weet dit is uiters bevooroordeeld, maar gun my dit.

Ek word nie baie uit my hok gelaat nie. Miskien is hy net modebewus. Die kêrel sou heel ongesiens verbygeglip het as dit nie vir die gedoente om sy nek was nie. Hoe beskryf mens dit? Dis soortvan ‘n serp slash hangmat affêre wat om se nek hang.


Nou kom ek vertel jou sommer met die intrapslag. Ek is gebore en getoë in die Vuildriehoek en ek kan jou onmiddellik sê daardie skepping, rugby en ‘n kroeg vol fabriekswerkers komplimenteer mekaar glad nie. Kyk hier word breë goue kettings om die manne se nekke gehang en dit word nie onder jou hemp gedra nie.

Dit hang bo-oor jou T-hemp se kraag. Daardie gedoente om die knaap se nek is mos lekker vasvat plek vir ‘n plaaslike breker na ‘n paar vuil cokes. Gelukkig vir die knapie, het die grootskerms die manne se aandag geboei. Die enigste een wat op die ou einde met ‘n gebreekte kakebeen huis toe is, was Cheslin Kolbe. Dit was darem ‘n frats.

So gepraat van ‘n lekker pakslae is ek steeds van mening dat die eindtelling die Nieu-Seelanders gevlei het. Ons het nog nie die beste van Bok se kind gesien nie.

My vermoede is dat die fisiekheid van die afgelope paar weke in Baltimore in die VSA tydens die vierdie en beslissende toets in die reeks sy tol vir die manne in swart gaan eis.

Kyk mens het altyd respek vir die All Blacks, maar die dae wat ons spelers grootoog na hulle gekyk het, is verby. Ons kyk hulle vierkantig in die oë. Respekvol, maar sonder bewondering.


Die Springbok met die nus om die nek, is nou die breker met die 24 karaat goue ketting om die nek. Die dae van ontvang is verby… die houe word nou uitgedeel. Viva die Bokke!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button