SportSport

Adriaan blink uit by WB-toernooi

Wys hy kan meeding op die hoogte vlak.

SASOLBURG  – Adriaan van der Merwe van die Vaal Dodgers het sy bofbaldroom verwesenlik toe hy Suid-Afrika by die o.15-Wêreldbeker in Mexiko verteenwoordig het.

Die toernooi het van 26 September tot 5 Oktober in Mexiko plaasgevind. Die jong werper (pitcher) van die HS Sasolburg het sewe strike-outs in sy span se laaste wedstryd teen Australië behaal.

Suid-Afrika het sy veldtog met ’n nederlaag van 5-1 teen Australië in Estadio Beto Ávila in Cancún afgesluit.

Vir Adriaan was dit ’n groot eer om sy land op dié vlak te verteenwoordig en in groot stadions te speel.

“Dit was ’n baie groot belewenis en ’n baie groot eer om Suid-Afrika te verteenwoordig,” sê hy.

Een van sy hoogtepunte was die wedstryd teen Mexiko. Dit was sy eerste internasionale aandwedstryd in stadion voor ʼn volgepakte Mexikaanse tuisskare.

Sy beste persoonlike vertoning het egter in die laaste wedstryd teen Australië gekom, toe hy vyf beurte as werper voltooi het en sewe kolwers uitgehaal het.

“Ek dink ek het baie goed gevaar in die toernooi, veral teen die kaliber van spanne waarteen ons gespeel het,” vertel hy.

Kolfwerk was volgens Adriaan een van die grootste uitdagings. Hy moes teen werpers kolf wat teen 88 myl per uur, sowat 142 km/h, gegooi het.

Hy het ook besef hoe groot die gaping tussen Suid-Afrika en sommige van die ander bofballande is. Volgens hom beoefen kinders in dié lande reeds van jongs af bofbal as ‘n skoolsport.

“Maar ons as Suid-Afrikaners het gewys ons staan nie terug nie.”

Adriaan het verskeie lesse uit die toer geneem. Die Japannese vanger Rentaro Seki het veral ’n indruk op hom gemaak.

“Ek het by Rentaro Seki geleer dat hoe meer energie jy in jou spel insit, hoe beter vaar jy.”

Hy sê die spelers van regoor Suid-Afrika moes aanvanklik leer om by mekaar aan te pas, maar het goed as ’n span saamgespeel en nuwe vriendskapsvande gesmee.

Die toer het hom ook die geleentheid gebied om Mérida en Cancún te besoek. Hy beskryf Mérida as ’n besondere ervaring met interessante mense en onbekende kossoorte, terwyl Cancún vir hom die paradys van die toer was.

Een van die ervarings wat hom die meeste sal bybly, was om teen die seun van Miguel Cabrera, die voormalige Detroit Tigers-speler en Hall of Famer, te speel en hom te ontmoet.

Die span het ook Amerika besoek, waar hulle ’n Major League Baseball-wedstryd tussen die Atlanta Braves en Cincinnati Reds bygewoon het.

Die ervaring het Adriaan se droom om eendag professioneel bofbal te speel, versterk.

“Ek hoop om self eendag op so ’n hoë vlak te kan speel.”

Sy familie en afrigters is trots op sy prestasie en hoop dat hy weer die geleentheid sal kry om aan ’n Wêreldbeker deel te neem.

Adriaan se aandag verskuif nou na die seisoen, waarin hy vir die Vaal Dodgers se o.19-span speel.

“Ek is baie trots. Nie elkeen kry die geleentheid nie en ek glo ek het my beste gedoen om my ouers, familie, vriende en spanmaats trots te maak.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button