OpinionsSport

Rubriek: Laat slapende honde met rus

Politici speel met die leeus se maanhare

Mens word van kleins af geleer jy moenie krap waar dit nie jeuk nie. Die afgelope naweek het Oom Cyril, mnre. Strickland, Kriel en Malema uitgevind wat gebeur as jy met Koning Leeu se maanhare speel. Oom Donald Trump is op die oorlogspad.

Die slapende reus is wakker gemaak en het soos‘n bul in ‘n porseleinwinkel aangegaan. Die krane is toegedraai! Verder is arme Strickland se snoet deur onse Dricus papgeslaan.

Die Dutchman soos wat die vuilbek yank gereeld na Suid-Afrika se liefling seun verwys, het net soos Oom Cyril gewys dat hy himself nie deur ‘n Amerikaner sal laat intimideer nie.

Ongelukkig het Oom Cyril sleg tweede gekom. So ook ou Kallie en Julius.

Die les is moenie bo jou gewigsklas probeer boks nie. Moenie met valse brawade voor jou maatjies grootpraat nie. Jou onderbroek mag net oor jou kop getrek word.

Oom Kallie en sy gideonsbende het ook geleer mens moet versigtig wees waarvoor jy wens, jy mag dit miskien net kry. Wat politiek betref weet ek net genoeg om kop bo water te hou.

Ek swem nie stroomop of stroom af nie. Ek dryf in die Dooie See en bekyk die politiekelandskap van ‘n veilige afstand af.

Dis immers nie toelaatbaar om politiek in die werksplek te bespreek nie vind ek die ander dag uit.

Asof die Suid-Afrikaanse parlement nie vir genoeg drama en intrige sorg nie, het ons veergewigregering besluit om deur die toue met die wêreld se swaargewigkampioen te klim.

Slim ne? Sosiale media was die naweek so wild soos ‘n tiener met rooi hakskene.

Ons reënboognasie het mekaar met houekombinasies en lae houe gepepper wat selfs Dricus harpuis sou laat ruik het.

Individue van weerskante het hulself die reg toegeëin om namens die massas stelling in te neem.

Boonop moes oom Kallie uitvind dat sy nuutgevonde vlugtelingstatus hom toelaat om enige tyd boerewors, braai en brandewyn op te gee vir beef jerky en Budweiser.

Maar die gegewe perd word nou in die bek gekyk.

Nog ‘n strop om Oom Kalliemarie se nek is ‘n klagte van hoogverraad wat deur Zumpie se party teen AfriForum aanhangig gemaak is.

Nou sit almal in die stoutehoekie en snik en wys vingers na mekaar. Intussen sit Julius se rooi beret ook skeef op sy kop nadat Elon Musk sy vleiskuif ‘n oorveeg gegee het.

Wie weet, miskien gaan iemand in die nabye toekoms ‘n rooi uitrusting vir ‘n oranje ene verruil as Musk sy sin kry om die sogenaamde Commander and Chief as ‘n internasionale krimineel verklaar te kry.

Al wat ek weet is dat wanneer die olifante baklei is dit die gras wat seerkry.

Of jy nou pro of anti-Trump is maak nie saak nie. Een ding moet jy besef hy doen wat hy sê. Dis egter jammer dat dit ‘n president van ‘n ander verg om probleme in ons mooie land aan te spreek.

Kom ons hoop dat AfriForum se afvaardiging na Washington DC salf en nie sout in die wonde gaan smeer nie. Anders kan dit vir SA net soos vir Strickland neusie verby wees.
* PS Charlize daar het al 20 000 van die 44 mense wat Afrikaans praat in Suid-Afrika voelers uitgesteek om VSA toe te gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button