OpinionsSport

Oud-Rissie se bokdroom bewaarheid

Hy leef in die oomblik en dink nie te ver vooruit nie

VEREENIGING – Wenners werk wanneer ander rus. Dit is die lewensleuse wat Erich Visser, die Vaaldriehoek se nuutste Junior Springbok, van kindsbeen af tot nuwe hoogtes aangespoor het. “As jou drome jou nie bang maak nie, is dit nie groot genoeg nie.

Erich Visser

Baie mense het drome. As jy dit droom moet jy dit opvolg met harde werk. Werk hard en moenie moedeloos word nie,” is Erich se siening.

Die blondekop spruit van Jaco en Monica Visser wat sy eerste rugbytree vir die Laerskool Risiville in Vereeniging gegee het, het vroeër vandeesmaand in Gqeberha op die Nelson Mandelabaaistadion sy buiging vir die Junior Springbokspan vir o20-spanne gemaak.

“Die groen en goud is vir my ‘n simbool van my jare se harde werk. Al die opoffering wat ek moes deurgaan, laat aande oefen en vroeg oggende opstaan.

Al die bloed en sweet. Dit is ‘n vreeslike groot voorreg om die Vaal en die hele provinsie op nasionale vlak te verteenwoordig,” se Erich. Hoewel hy vandag ‘n bielie van ‘n skrumskakel is, het die ou cliche op laerskool dat die kleinste outjie skrumskakel moet speel ironies genoeg in sy guns getel.

Met rugbygene wat in sy are borrel en bruis het hy vroeg gewys dat hy bestem is vir groter dinge toe hy vir die Valke se o12 en o13-rugbyspan gekies is. Volgens hom het sy speeldae by die Laerskool Risiville en Vereeniging Rugbyklub hom gevorm en die geleentheid gegee om deur Grey Kollege in Bloemfontein raakgesien te word.

“My pa is my rugbyheld en ek wou altyd in sy voetspore volg en het vir Vereeniging begin speel soos my pa. My pa het my van kleins af geleer om hard te werk en my drome te volg. Hy het my altyd die waarheid vertel en my voete op die grond gehou.

Hy het my geleer om hard te werk al is die geleenthede nie daar nie, om aan te hou om aan die deur te klop, want dit sal oopgaan.” Hoewel hy ewe tuis op skrumskakel en losskakel is, is hy in sy graad 11 jaar die geleentheid gegun om te besluit waarin hy wil spesialiseer.

“Ek het skrumskakel gekies want ek het gevoel dis waar ek die meeste sukses sal behaal. Ek bring ‘n ander aspek, ek het verby die ander skrumskakels gegroei.” Wat sy toekomsplanne betref, is hy versigtig om dinge vooruit te loop.

“Ek leef in die oomblik en fokus net op die volgende trappie, wedstryd en kompetisie. Wat gebeur sal gebeur.” En as die toekoms ‘n speelkans saam met Handre Pollard inhou, gaan hy beslis nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie. “As ek kan kies om saam met enige Springbok te speel, sal dit beslis Handre Pollard wees.

Ek sal graag by hom wil leer, veral sy kalmte op die veld en om spasies raak te sien en die regte dinge in groot oomblikke te doen.” Soos hulle sê wees versigtig waaroor jy droom dit mag net bewaarheid word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button