Somertuin terapie

Kyk die video om te sien hoe mooi lyk my ma, Gerda Bruinette Snr. se somertuin en die gedenktuin langs die huis.

VANDERBIJLPARK .- Tuinmaak is harde werk, maar vir die wat ure in die tuin spandeer, is dit ook terapie. My ma, Gerda Bruinette Snr, het so paar maande gelede besluit dis tyd om die tuin oor te doen. Sy wou kleur terug sit in die tuin.

Sy het langs die huis begin en eers die gedenktuin omskep van vaal na kleurvol. Die herrineringsbankie met plaatjies vir my oorlede man Nico, haar suster, Kittie, huisvriend Johan Hartzenberg en my pa, Nico is met die hulp van my pa se broer, Josef weer opgeknap met nuwe hout.

Verder het ma self geverf, geplant, gespit en geskoffel. Spandeer sy ure op haar knieë in die tuin en word elke plantjie en struik met liefde versorg.

Tuindienste word slegs toegelaat om die gras te sny. Ma op 71 doen alles self. “Dis my terapie,” sê sy. “Wanneer ek so in die tuin doenig is dan verlang ek na almal en ek huil sommer so tussenin, maar ek glo hulle (die wat reeds oorlede is), sien wat ek doen en hou daarvan.”

Vlak voor Kersfees het sy juis ‘n nonnetjiesuil se veer in die erf by die gedenktuin opgetel. Ons erf huisves baie voëls, maar hier is nog nooit ‘n uil gesien of gehoor nie. Ons beskou dit as ‘n teken van Pa om te sê hy sien haar harde werk en hy dink dis mooi.

Mag die die mooi van haar somertuin ook jou dag ophelder.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button