Sport

Ermelo Rugbyklub gee Sasol 3 streepsuiker

Die deurbraak vir Ermelo het gekom toe 'n skrum op Sasol se 5 m-stippellyn plaasgevind het, met Sasol wat die skrum sou voer.

Ermelo Rugbyklub het die afgelope naweek in ‘n ligawedstryd teen Sasol 3 uitgedraf en hul teenstanders oortuigend geklop.

Dit was ‘n slordige wedstryd met hanteringsfoute en swak dissipline wat in die eerste 15 minute hoogty gevier het.

Telkemale wanneer Sasol in Ermelo se halfgebied gedreig het, het Ermelo egter goed gedoen om uit die gevaarsone te kom.

Ermelo het eerste die geleentheid gehad om punte aan te teken nadat Sasol se spelers ‘n strafskop skuins voor die pale afgestaan het.

Diean Swart duik om sy opponerende nommer te stuit. Foto | Wayne van der Walt

Ongelukkig kon Diean Swart nie uit dié geleentheid munt slaan nie.

Ermelo het ook twee ander geleenthede verbrou waar daar ‘n goeie stukkie agterlynspel aanmekaargesit is, maar waar die aangee nie in die hande wou bly nie.

Die deurbraak vir Ermelo het gekom toe ‘n skrum op Sasol se 5 m-stippellyn plaasgevind het, met Sasol wat die skrum sou voer.

Ermelo het vinnig losgebreek en die skrumskakel oorrompel, die bal afgeneem en oor die kalklyn geduik.

Sasol se spelers het briesend agter die pale gaan staan, hande op hul koppe, en die besluit van die skeidsregter bevraagteken.

Raboane Mokgalagadi word deur twee swaargewigte vasgetrek. Foto | Wayne van der Walt

Hulle was oortuig dat die bal nie uit was nie. Nadat hulle ‘n paar gevleuelde woorde gedeel het, het hulle gedreig om met mening terug te veg, maar dit was duidelik dat hulle nog herkou het aan die skeidsregter se besluit, omdat Ermelo kort hierna weer agter hulle pale gaan kuier het.

Die tweede helfte was net so slordig soos die eerste met aanhoudende aanslane, en gereelde onderbrekings met plaasvervangersuitruiling deur Sasol.

Die wedstryd het geen vloei getoon nie, en die gemoedere het hoog begin loop. Op een stadium moes van die spelers ook uitmekaargemaak word.

Hoewel Sasol die skrums in die tweede helfte gedomineer het, het Ermelo goed kopgehou, en wanneer die bal agterlyn toe is, het jy geweet hier kom vuurwerke.

Ian van der Westhuizen op pad doellyn toe. Foto | Wayne van der Walt

Dit was duidelik dat die span van Ermelo se fiksheid beter as dié van Sasol 3 was.

Uiteindelik het Ermelo Sasol 3 met 26-10 geklop. Peet Marx en Ian van der Westhuizen het onderskeidelik een en drie drieë elk aangeteken. Swart het ook drie van die drieë verdoel.

Eddie Dludlu is as voorspeler en Van der Westhuizen as agterspeler van die wedstryd aangewys.

Ermelo pak eerskomende naweek verlede jaar se ligawenners, Standerton, op die Ligbron Akademie vir Tegnologie se A-veld aan.

Related Articles

 
Back to top button