Sport

Ermelo tweede op punteleer na hulle Sables kafdraf

Hulle het soos 'n goed geoliede masjien gefunksioneer en was vasbeslote om nie in hul eie helfte te speel nie.

In ‘n opwindende wedstryd het Ermelo Rugbyklub die Standerton Sables aangedurf en ‘n intense vertoning aan die ondersteuners gelewer.

Ermelo het die wedstryd 45-24 gewen.

Die wedstryd het afgeskop met Ermelo wat onmiddellik dominansie getoon het.

Hulle het in die openingsminute van die wedstryd ‘n vroeë drie gedruk, wat deur Diean Swart verdoel is.

Die span se samewerking was duidelik. Hulle het soos ‘n goed geoliede masjien gefunksioneer en was vasbeslote om nie in hul eie helfte te speel nie.

Peet Marx nadat hy die bal opgepik en oor die lyn geduik het. Foto | Wayne van der Walt

Daarbenewens was hulle rotsvas op die verdediging en het groot duikslae onder die luide toejuiging van die tuisskare uitgevoer.

Standerton het egter nie op hulle laat wag nie en het selfs oomblikke van briljantheid getoon.

Vir Ermelo, is Eddie Dludlu is as die voorspeler van die wedstryd en Rabaone Mokgalagadi die agterspeler van die wedstryd aangewys.

Ermelo se puntemakers was Peet Marx, Madilakhe Da, Luigi Cirigliano (twee drieë), Boetie Mangane en Lunga Cindi. Swart het drie drieë verdoel en drie strafskoppe oorgeskop.

Luigi Cirigliano op pad doellyn toe vir sy tweede drie. Foto | Wayne van der Walt

Ermelo se volgende wedstryd sal eerskomende Saterdag teen eMbalenhle weg wees. Daarna vat hulle weer vir Kriel op tuisbodem aan op 22 Junie.

Die kragmeting tussen Kriel en Ermelo beloof om ’n titaniese stryd te wees, aangesien Kriel die vorige wedstryd op hulle tuisveld met ’n skrale telling van 30-29 in die doodsnikke gewen het.

Ermelo het voorgeloop, maar Kriel het in die laaste oomblikke van die wedstryd ‘n strafskop gekry, na die pale aangelê en die bal suksesvol deur die latte gejaag om die wedstryd te beklink.

Ermeloërs word aangemoedig om agter hierdie dorpspan te staan en in groot getalle die wedstryd by te woon. Die Ermelo-manne kan doen met die dorp se ondersteuning, en dit sal ook vir ’n lekker tyd saam met die gesin langs die veld sorg.

Maak seker om die volledige wedstrydverslag in vandeesweek se Hoëvelder te lees.

Related Articles

Back to top button