Kryn Romijn slegs 0.52s weg van Riaan Dempers se 31-jaar-rekord
Met elke tree het Kryn meer en meer gas in sy tenk gevind om homself te druk tot by 'n punt waar hy nog nooit vantevore was nie.
Hoërskool Ermelo se leerder en atleet, Kryn Romijn, het verlede week ‘n nuwe mylpaal in sy ontluikende atletiekloopbaan bereik deur ‘n ongelooflike tyd in die 400 m-wedloop te hardloop.
Kryn se wedloop het verlede Saterdag deel gevorm van die Atletiek Mpumalanga-kampioenskappe wat by Hoërskool Rob Ferreira plaasgevind het.
Ten spyte van ‘n lang, besige atletiekseisoen wat baie voete op die baan gebring het, was dié skool se baan steeds in ‘n puik toestand en reg om vir die atlete die beste kans moontlik te gee om vir die SA’s te kwalifiseer.
Na amper ‘n volle dag se wag vir sy kans om te bevestig dat hy ook vanaf 27 en 30 Maart aan die ASA Ouderdomsgroep- kampioenskappe in Kaapstad gaan deelneem, het Kryn uiteindelik sy kans gekry met die son wat reeds agter Rob se paviljoen begin sak het.
Dit was om 15:48 toe die afsitter se geweerskoot geklap het, en die eerste lopie van die o. 19-seuns se 400 m-wedloop weggespring het.
Die atlete was skaars verby die 90 m-merk toe dit al duidelik geword het dat Kryn die wedloop sou wen.

Maar dit was slegs die begin, en met elke tree het Kryn meer en meer gas in sy tenk gevind om homself te druk tot by ‘n punt waar hy nog nooit vantevore was nie.
Toe hy die laaste draai neem en die finale 100 m aanpak, het min besef dat daar moontlik ‘n kans is dat dié Ermelo-atleet die rekordboeke gaan herskryf.
Voor Kryn vanjaar tydens Hoërskool Nelspruit se vriendskaplike byeenkoms in Januarie sy eerste 400 m-wedloop gehardloop het, het hy gesê dat hy ‘n 45 sek. 400 m wou hardloop.
Hy het nie daardie dag sy doel bereik nie, en het heel seisoen kort van daardie hekkie geval. Maar nie verlede Saterdag nie. Verlede Saterdag het iets anders binne Kryn gebrand.
Toe hy die eindstreep verbysteek, was hy slegs ‘n halwe sekonde kort van ‘n 31 jaar lange Mpumalanga-rekord.
Hy het sy 400 m-wedloop in 45,61 sek. gehardloop, slegs 0,52 sek. meer as die legendariese Mpumalanga- en Suid-Afrikaanse atleet, Riaan Dempers se rekord van 45,15 sek.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



