JJ rugbyspanne laat Kruinpark in die stof byt
Laerskool JJ van der Merwe se rugbyspanne het 'n oorweldigende oorwinning oor Kruinpark behaal in opwindende wedstryde.
Die rugbykragmeting tussen Laerskool JJ van der Merwe en die besoekende Laerskool Kruinpark het op 22 April vir ’n opwindende atmosfeer op JJ se rugbyvelde gesorg.
Die tuisspan het gewys waartoe hulle in staat is en indrukwekkende oorwinnings behaal.
Die o. 9-span het met ’n naelskraapse oorwinning van 17-14 die verrigtinge begin.
JJ se o. 10’s het die momentum met ’n dominerende vertoning voortgesit, en ’n oortuigende oorwinning van 48-0 behaal.
Hulle aanvallende spel en stewige verdediging was een te veel vir die besoekers.

Die o. 11-span het ook oorheers en ’n wentelling van 45-0 aangeteken.
Die tweede rugbyspan van JJ van der Merwe het met ’n oortuigende 43-0-oorwinning teen Kruinpark geseëvier.
Die hoogtepunt van die dag was die kragmeting tussen die twee eerste spanne.
In ’n opwindende wedstryd het JJ van der Merwe met ’n telling van 36-29 as oorwinnaars uit die stryd getree.
Dit was ’n aksiebelaaide en ’n aanskoulike vertoning wat die toeskouers op die punt van hulle stoele gehou het.



