JJ Netbalspanne blink uit in Gert Sibande-Liga
JJ van der Merwe se netbalspanne het hard geveg om hul plek in die Challenger-beker in te neem.
Laerskool JJ van der Merwe se netbalspanne het ’n uitstekende vertoning in die Gert Sibande-liga gelewer en hul plek in die Challenger-beker, wat op 7 Junie in Witbank plaasvind, verseker.
Die o. 11’s het hulle weg na die eindstryd verseker. Hulle het ’n gelykop uitslag van 10-10 teen Laerskool Goedehoop behaal en oortuigende oorwinnings teen laerskole HM Swart (14-4), Trichardt (12-4) en Oranjegloed (18-3) verower.
In die halfeindstryd het hulle Laerskool Standerton 17-9 geklop.
Die eindstryd teen Goedehoop was ’n naelbytaffêre, maar die JJ-span het met 11-12 verloor.
Ten spyte van hierdie nederlaag, het die span ’n tweede plek in die Gert Sibande liga behaal en verdien hulle hul plek in die Challenger-beker.
Die o. 12-span het ook ’n merkwaardige toernooi gehad.
Hulle het wedstryde teen laerskole Kruinpark (11-9) en HM Swart (11-6) gewen, maar het ook naelskraapse nederlae teen laerskole Oranjegloed (7-11) en Standerton (7-14) gely.
In ’n opwindende laaste wedstryd het hulle Laerskool Ermelo met 15-14 geklop.
Met dié resultate het hulle ’n vyfde plek in die Gert Sibande-liga verdien.
Die o. 13-span het hul krag met oorweldigende oorwinnings teen laerskole Pionier (26-6) en Ermelo (23-7), bewys asook ’n oorwinning teen TP Stratten (14-8) en ’n gelykop uitslag teen Goedehoop (12-12).
Hulle enigste nederlaag was teen Standerton (12-14).
Dié span het ook ’n vyfde plek in die Gert Sibande-liga verower.



