Sport

EHS-sportsterre beïndruk toeskouers met puik vertonings

Hoërskool Ermelo se spanne wys hulle staal op die sportveld met indrukwekkende oorwinnings en harde stryde teen sterk teenstanders.

Hoërskool Ermelo se rugbyspanne het op 14 Junie ’n onvergeetlike dag op die veld beleef toe hulle teen die gedugte spanne van Hoërskool Eldoraigne te staan gekom het. Die dag het klipharde stryde en puik rugby opgelewer, wat die toeskouers op die punte van hul stoele gehou het.

Die EHS-spanne het uitstekend presteer, met die o. 14A-span wat ’n oorwinning van 39-12 behaal het, en die o. 14B’s wat hul teenstanders met 73-0 geklop het.

Die o. 15A-span het met 20-0 gewen, terwyl die o. 15B’s met 10-28 verloor het. Die o. 16A- en B-spanne moes ongelukkig die knie buig met tellings van onderskeidelik 12-49 en 8-10. EHS se tweede span het ’n stewige oorwinning van 24-5 behaal en die derde span het met 28-14 gewen.

Die hoogtepunt van die byeenkoms was ongetwyfeld die eerste span se naelbytstryd, wat EHS uiteindelik met ’n skrale telling van 32-29 gewen het.

Die kragmeting het vinnig afgeskop toe EHS die eerste drie van die wedstryd aangeteken het. Kort daarna het Eldoraigne ook onder die pale gaan kuier. Beide spanne het voor die rustydfluitjie geblaas het, nog ’n drie gaan druk met EHS wat 15-12 voorgeloop het.

Die tweede helfte het ook blitsvinnig begin toe Eldoraigne direk ná die afskop hul eerste drie met ’n suksesvolle verdoeling aangeteken het.

Lienke van Rooyen in aksie. Foto | Wayne van der Walt

EHS het egter vinnig teruggekap met nóg ’n drie, wat hulle die voortou van 20-17 gegee het. Die res van die wedstryd was ’n toonbeeld van uitstekende aanval- en verdedigingspel van beide kante. Die spanning was tasbaar toe Eldoraigne met sowat vier minute oor op die telbord, met 29-27 voorgeloop het.

In ’n oomblik van briljante spel het EHS daarin geslaag om die bal met hul afskop te wen deur Eldoraigne se spelers by die kantlyn uit te boender. Hierdie vinnige spel het ’n deurslaggewende drie verseker, wat EHS die oorwinning van 32-29 besorg het.

EHS het ook in die Mpumalanga Hokkiekampioenskap in weg- en tuiswedstryde deelgeneem.

Die uitslae is soos volg:

  • o. 14-Dogterspan wen 6-0 teen Hoërskool Secunda en 3-0 teen Ligbron Akademie vir Tegnologie
  • o. 15-Dogterspan wen 4-0 teen HTS Middelburg en 5-2 teen Hoërskool Secunda
  • o. 16-Dogters verloor 3-4 teen Penryn en speel 3-3 gelykop teen Ligbron Akademie vir Tegnologie
  • Tweede span wen 7-0 teen Hoërskool Rob Ferreira en 3-0 in die eindronde teen Hoërskool Hoogenhout
  •  Eerste span wen 4-1 teen Ligbron Akademie vir Tegnologie en 2-1 teen Hoërskool Secunda.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button