Sport

JJ van der Merwe-rugby blink uit by Mpumalanga-eindstryd

JJ van der Merwe se jong rugbyhelde behaal indrukwekkende resultate tydens die opwindende Mpumalanga-liga halfeind- en eindstryde.

Die rugbyspanne van Laerskool JJ van der Merwe het op 20 en 21 Junie hul staal in Mbombela gewys tydens die halfeind- en eindstryde van die Mpumalanga-liga.

Die jong rugbyspelers het die skool se naam hoog gehou met indrukwekkende prestasies.

Die o. 9-span het ‘n sterk vertoning gelewer deur in die halfeindstryd vir Nelspruit Primary met 17-7 te klop. Hulle het egter in ‘n strawwe eindstryd teen Laerskool Nelspruit vasgeval en met 24-0 verloor, wat hulle die tweede plek in die liga besorg het.

Die o. 10-span het in die halfeindstryd vir Laerskool Bergland naelskraap met 12-10 geklop, maar moes in die eindstryd die knie buig teen Laerskool Nelspruit met ‘n telling van 15-0. Die span het ook tweede in hul liga geëindig.

Die o. 11-span het bewys dat hulle ware kampioene is. Na ‘n oorwinning van 19-5 teen Laerskool Lydenburg in die halfeindstryd, het hulle in die eindstryd teen Laerskool CR Swart te staan gekom.

Insetsel. Rina Anderson en haar seun, Luke. Die skilpad vereis dat die afrigter die span aansê om hul lyne agtermekaar te kry.

Die wedstryd het in ‘n opwindende gelykopuitslag van 12-12 geëindig, wat beteken dat die o. 11-span die trofee met Laerskool CR Swart deel.

JJ se eerste span het in hul half-eindstryd die onderspit gedelf en het vierde in die liga geëindig.

Laerskool JJ van der Merwe is trots op al hul rugbyspelers vir hul toewyding, sportmanskap en die puik wyse waarop hulle die skool verteenwoordig het.

Voor die ligawedstryde was Laerskool JJ van der Merwe die toneel van ‘n epiese stryd op die rugbyveld, waar die onbesonge helde van die sport – die rugbymammas en ‘n paar dapper onderwysers – mekaar die stryd aangesê het.

Dié geesvang was om die skool se vier rugbyspanne te vier.

Gewapen met hul beste kostuums het die mammas die veld betree.

‘n Skilpad, vark, perd, krokodil en selfs ‘n dinosaurus en ‘n unicorn het gewys dat hulle die nodige vaardighede het om rugby te speel.
Die kinders het langs die veld geskaterlag en omtrent hulle harte uitgeskree om die wedstryd te ondersteun.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button