Sport

Groot rots in Tzaneen stuit nie eers Ermelo-renjaers nie

Ermelo se renjaers trotseer skade tydens Tzaneen-tydren en keer terug met 'n indrukwekkende podiumplek.

Ná ‘n maand lange vertraging weens ‘n rekordreënval, het die seisoensopeningsronde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap uiteindelik op Vrydag 27 en Saterdag 28 Junie plaasgevind.

Dit was ‘n naweek vol drama, herstelwerke en uitstekende ryvernuf.

Die NTT Tzaneen-tydren is ‘n gewilde wedren op die SA tydrenkalender, wat aanvanklik in Mei sou afskop, maar die onverwagte nat toestande het die roetes onbegaanbaar gemaak en die organiseerders genoop om dit uit te stel.

Johan Strauss van Ermelo, tesame met sy navigeerder, Caro Storm, het die Vrydag ‘n uitdagende begin beleef toe hulle tydens ‘n sprong met hulle Subaru Impreza op ‘n groot klip beland het wat die uitlaatpyp beskadig het.

Johan Strauss en Caro Storm hang in die lug tydens ‘n groot sprong. Foto’s | Verskaf/Dries Beetge

Dít het op sy beurt die dryfas laat breek, wat hulle uit aksie gedwing het. Hulle kon egter die skade herstel en het Vrydag aan die nagwedren deelgeneem.

Die span se kans op ‘n goeie uitslag het aanvanklik sleg gelyk, totdat hulle Saterdag met nuwe vuur en vasberadenheid teruggekeer het. Die beloning was ‘n oorwinning in die NRC 2-klas én ‘n indrukwekkende alghele derde plek.

Nog ‘n span van Ermelo, Paul van Niekerk en Willemjan Human, het aan die naweek se aksie deelgeneem in hul NRC 2-Volkswagen Polo. Hulle tydren is egter op ‘n teleurstellende noot beëindig.

Vrydag het ‘n bestuursfout tot ‘n gebreekte skokbreker gelei, en hoewel hulle Saterdag weer goed weggespring het, het hulle kort daarna die
CV-koppeling op die dryfas gebreek en moes onttrek. Die tydren se uitdagende roetes het verskeie slagoffers geëis.

“Die volgende ronde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap vind op 25 en 26 Julie in Uitenhage plaas. Ermeloërs kan ook na 29 en 30 Augustus uitsien, wanneer die stof weer op tuisbodem gaan staan,” het Strauss gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button