Oud-Ermeloërs spring vir goud by Afrika Spele in Nigerië
Mia Davel, oudleerder van Hoërskool Ermelo, is met ’n sprong van 1,7m as die Afrika hoogspringkampioen by die onlangse Spele in Nigerië gekroon.
Mia Davel, ’n oudleerder van Hoërskool Ermelo, het onlangs Suid-Afrika se naam hoog gehou toe sy goud in hoogspring by die Afrika Spele in Nigerië verower het met ’n sprong van 1,7 m.
Davel, wat haar skoolloopbaan by Laerskool Pionier in Volksrust begin het en by Hoërskool Ermelo gematrikuleer het, studeer tans B.SportWetenskap aan die Universiteit van Pretoria.
Sy het eers in gr. 9 met hoogspring begin. “Ek het altyd gedink ek gaan ’n hekkiesatleet wees, maar ons Vader het ’n beter plan gehad,” het sy gesê.
Voor sy haar op hoogspring toegespits het, het Davel op eerstespan-vlak aan verskeie sportsoorte deelgeneem, insluitend hokkie, tennis en krieket. Sy was selfs die hokkiekaptein.
Sy beskryf haar familie, veral haar ma, as haar grootste steunpilaar.
“Hulle was altyd trots op my, ongeag my prestasie,” sê sy.
Ook haar vriende, kêrel Greghan, en universiteitskamermaat speel ’n belangrike rol in haar sportreis.
Haar afrigter, die 81-jarige oom Hugo Badenhorst, is volgens haar ’n ware mentor.

“Wanneer ek op die aanloopbaan staan, hoor ek sy stem: ‘Moenie dink nie, spring net.’”
Davel sê die wen het eers die volgende dag behoorlik begin insink.
“Ek het gehuil toe ek besef hóé groot dit is. Toe die volkslied speel, het ek emosioneel geraak – dit was ’n ongelooflike eer.”
Die uitdagende toestande in Nigerië het haar nie gekeer nie. “Ek het geweet God het ’n plan met my.”
Sy droom daarvan om haar persoonlike beste hoogte te verbeter en sê sy weet haar liggaam kan dit doen. “Ek moet net aan myself glo.”
Davel wil in die toekoms as biokinetikus praktiseer en steeds in die sportbedryf bly. Haar boodskap aan ander jong mense is eenvoudig:
“Ons almal het ’n plek. Volhard, en vertrou op ons Hemelse Vader.”
“Ek is net aan die begin van my storie,” sê sy met ’n glimlag.



