Simoné se groen-en-goud-droom word waar
Die 2026 Internasionale Saddle Seat Wêreldbeker vind vanaf 29 Junie tot 2 Julie in Shelbyville, Kentucky in die VSA plaas.
ERMELO – Vir die meeste ruiters is die droom om Suid-Afrika op die internasionale verhoog te verteenwoordig.
Simoné Jacobsz, ‘n Oud-Errie wat in 2023 gematrikuleer het, is onlangs as lid van die Senior Protea Saddle Seat-span gekies.

Wanneer Jacobsz in Junie vanjaar die groen-en-goud baadjie aantrek om na die Verenigde State te vertrek, sal dit die vervulling van ‘n droom wees wat sy al van kleins af koester.
“Ek dink nie die werklikheid het nog ten volle ingesink nie. Die oomblik wanneer ek daardie baadjie vir die eerste keer toeknoop, sal die realiteit my eers tref,” het sy gesê.
“Ek is opreg nederig en dankbaar vir die geleentheid.”
Jacobsz se verbintenis met die saal is byna ongeëwenaard.
Sy is op 1 Februarie 2005 gebore en slegs ‘n maand later was sy reeds in die skouring tydens die Ermelo Appelfees.

“Ek was in ‘n ‘kangaroo pouch’ voor op my pa se bors, terwyl ek saam met hom en my oupa in die familieklas deelgeneem het,” skerts sy.
Met rolmodelle soos haar pa, Jannie Jacobsz, en haar oupa, Carel Jacobsz, was die fondasie vir sukses stewig gelê.
Sy skryf haar prestasies toe aan die waardes wat sy by hulle geleer het, asook die ondersteuning van die SA Boerperd-vereniging en die hegtheid van die Ermelo-gemeenskap.
“Ermelo is ‘n klein dorp, wat daartoe bydra dat vriende, familie en onderwysers mekaar ondersteun en gevolglik is dit makliker vir ‘n persoon om te presteer.”
Die pad na die Protea-span was nie sonder uitdagings nie. In haar skooljare moes sy perdry balanseer met spansport en akademie en dikwels moes die gesin ver reis na stede om aan groter kompetisies deel te neem omdat plaaslike skoue beperk was.
“Perdry verg ongelooflike dissipline, veral as jy hoofsaaklik op jou eie oefen. Dit is dikwels makliker om bloot informeel te gaan ry as om fisies en doelgerig vir ‘n skou te oefen.”
Vir Simoné is ‘n perd meer as net ‘n sportmaat; dit is ‘n sielsgenoot wat haar hart soos min ander dinge verstaan.

Sy het vertel dat sy ná ‘n rowwe skoolweek op ‘n Vrydagmiddag by die huis gekom, ‘n perd opgesaal en sommer net vrylik gaan ry het. Sy het dan as ‘n nuwe mens teruggekeer.
“Elke perd van my het ‘n besondere en spesiale plekkie in my hart. Elkeen beskik oor iets unieks, en geen twee is ooit dieselfde nie.”
Sy onthou veral twee soulmate-perde: Calela Longtom, wat haar as kind die selfvertroue gegee het om veilig te voel, en Calela Ditto, met wie sy ‘n uitsonderlike konneksie in die skouring gehad het.
“Ek het Calela Longtom volkome vertrou met alles wat ek aangepak het, en met Calela Ditto was daar niemand wat in ons pad kon staan nie; ons het die baan met selfvertroue betree.”
Simoné is tans ’n ruiter by die Crystal Anvil Stalle, onder leiding van Glenda en Attie Koen en
Michiel Burger jnr.
Sy is tans ’n ruiter by die Crystal Anvil Stalle, waar sy onder die bekwame leiding van Glenda en Attie Koen, asook Michiel Burger jnr. oefen. Sy het haar opregte dank teenoor hulle uitgespreek vir hul deurlopende ondersteuning en afrigting wat tot haar sukses bygedra het.
Die 2026 Internasionale Saddle Seat Wêreldbeker vind vanaf 29 Junie tot 2 Julie in Shelbyville, Kentucky in die VSA plaas.
Tydens dié kompetisie neem die ruiters nie met hulle eie perde deel nie, maar word ‘n perd aan hulle toegewys waarby hul moet aanpas.
“My verwagting is om elke oomblik te geniet en waardevolle herinneringe te bou, maar ek sal uiteraard baie graag goud in albei divisies wil wen. Dit sou die uiteindelike hoogtepunt wees,” het sy vasberade gesê.
Haar raad aan ander jong ruiters: “Vertrou jou perd en jou opleiding, en hou aan ry.”




