Sport

Elrie se Wêreldbeker-droom wink

Vir haar is dit nie net 'n eer om deel van die span te wees nie, maar ook 'n groot verantwoordelikheid wat sy ernstig opneem.

Vir Elrie Lötz, die Errie-ruiter wat onlangs in die Senior Protea Saddle Seat-span ingesluit is, is perdry nie net ‘n sport nie – dit is in haar DNS.

Elrie vertel dat sy reeds op die ouderdom van een jaar op ‘n perd gesit is, met haar doek en fopspeen in haar hande.

Teen driejarige ouderdom het sy al begin skou. Dié passie is ‘n kosbare erfenis van haar ouma, Elra Tonkin Biering, en haar ma, Elra Lötz, wat albei lewenslange ruiters is.

Elrie se liefde vir perde kom al vandat sy kind was.

Sy het reeds as ‘n klein dogtertjie langs die baan gestaan en die Protea-ruiters met blink oë dopgehou, terwyl sy daarvan gedroom het om self eendag haar plek in dié span vol te staan.

Tydens ‘n skou in 2025 het ‘n beoordelaar vir haar ma gesê dat Elrie hope potensiaal het, maar sy moet aanhou oefen.

Dié woorde het haar aangespoor om tydens die Desember-vakansie twee keer per week
te oefen. Sy was selfs op Nuwejaarsdag in die saal.

“Ek sou ná ‘n oefening dalk moedeloos raak, maar elke traan was die moeite werd. Ek weet nou dat harde werk altyd beloon word,” het sy gesê.

Behalwe vir perdry, balanseer sy ‘n besige skedule met netbal, atletiek en akademie. Sy het vertel dat atlete in dié sport pligsgetrou moet wees.

“My hart word gesteel elke keer as ek in my perde se oë kyk,” vertel sy. Sy sonder veral twee perde uit, Manheim en Angel Eye, wat haar vertroue opgebou het en haar deur die skoubaan dra.

Sy oefen tans by haar ouma se stalle, Tonkin Biering Equestria, buite Standerton. Haar ouma is ook haar afrigter, wat hierdie reis selfs meer spesiaal maak.

Elrie is ook baie dankbaar vir Sumeri Botha, wat haar ook raak gesien het, en die laaste paar maande help afrig.

Elrie en haar ouma, Elra Tonkin Biering.

Elrie vertrek einde Junie na Shelbyville, Kentucky, vir die Wêreldbeker-toernooi, waar die ruiters op perde ry waarmee hulle glad nie bekend is nie. Dit is hier waar die beoordelaars werklik toets of ‘n ruiter kan perdry.

Sy het vertel dat sy dit bykans nie kon glo toe haar naam as deel van die Senior Protea Saddle Seat-span uitgeroep is nie.

“Dit was die beste gevoel in die wêreld. Toe hulle my naam aankondig, het ek dadelik vir my pa gekyk.”

Vir haar is dit nie net ‘n eer om deel van die span te wees nie, maar ook ‘n groot verantwoordelikheid wat sy ernstig opneem.

Sy wil ‘n voorbeeld wees vir toekomstige Protea-ruiters, net soos sy self as klein dogtertjie na vorige Proteas opgekyk het.

Sy sien uit daarna om haar land te verteenwoordig en is van plan om hard te oefen om te verseker dat sy goed voorbereid is vir die taak op hande.

Elrie se raad aan ander jong ruiters: “Moet nooit moed opgee nie, hou aan hard werk en vertrou die Here; Ek is tot alles in staat deur die Here wat my krag gee.”

Haar droom vir die toekoms is om eendag haar ouma se stalle oor te neem en ander kinders se drome te laat waar word, net soos haar ouma vir haar gedoen het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button