EHS junior tennistoernooi slaan sterk af
Hoërskool Middelburg is as die kampioene van die EHS Junior Tennistoernooi gekroon nadat ses skole oor twee dae in Ermelo meegeding het.
Hoërskool Ermelo het vanjaar hul eerste EHS Junior Tennistoernooi vir Graad 8- en 9-leerders aangebied, met ses skole wat oor twee dae aan die byeenkoms deelgeneem het.
Die toernooi is volgens ‘n rondomtalieformaat gespeel, waar elke span teen al die ander skole meegeding het. Die algehele wenner is bepaal deur die meeste wedstryde wat gedurende die twee dae gewen is.

Na ‘n naweek van mededingende tennis is Hoërskool Middelburg as die kampioene aangewys.
Die byeenkoms het nie net op prestasie gefokus nie, maar ook op sportmangees en die bou van verhoudings tussen spelers van verskillende skole, met organiseerders wat bevestig het dat daar deurgaans ‘n uitstekende atmosfeer rondom die bane was.
Vrydagaand het deelnemers die geleentheid gehad om saam om die vuur te kuier en worsbroodjies te geniet.

Die standaard van tennis was hoog en spelers het hul onderskeie skole met onderskeiding verteenwoordig.
Die laaste wedstryde is Saterdag afgehandel, waarna die toernooi met ‘n prysuitdeling afgesluit is.
Hoërskool Garsfontein is vereer met die toekenning vir die beste sportmangees.
Die skool is erken vir hul positiewe houding, respek teenoor teenstanders en voorbeeldige optrede gedurende die toernooi.
Organiseerders het hulle dank uitgespreek teenoor die spelers, afrigters, beamptes, ouers en ondersteuners wat gehelp het om die eerste EHS Junior Tennistoernooi moontlik te maak.

Die sukses van die byeenkoms lê die grondslag vir ‘n nuwe tradisie by Hoërskool Ermelo, waar jong tennisspelers jaarliks die geleentheid sal kry om hul vaardighede te ontwikkel, vriendskappe te bou en wedstrydervaring op te doen.



