EntertainmentLifestyleReviews

Wen ‘n vakansie-boekpakkie

Die Junie-vakansie is op hande en drie weke van pret en plesier wag op leerlinge. Hou jou kroos besig met vier nuwe Afrikaanse kinderboeke wat in een prettige pakkie gewen kan word.

Die skole sluit Vrydag vir die Junie vakansie en dan is dit vir drie weke weer chaos in die huis. Hou jou kinders uit die kwaad met vier splinternuwe Afrikaanse kinder- en jeugboeke.

Groen Ham en Eiers, ‘n klassieke Dr Seuss-boek, boei al vir jare kinders en grootmense met sy oulike illustrasies en rympies. Nou kan kinders in Afrikaans lees oor die astrante klein Bek-is-ek wat daarop aandring dat ou oom Beyers sy groen ham en eiers eet en die woordestryd wat daarop volg. Dit bevat ook die lewensles dat ons nie kan sê waarvan ons hou of verpes voordat ons dit probeer het nie.

Vir die seuns is daar Speurder Kwaaikofski 7: Speurder teen speurder van Jürgen Banscherus. In die nuuste verhaal in die Speurder Kwaaikofski reeks het Kwaaikofski kompetisie – ‘n ander speurder wat op die toneel verskyn. Hierdie nuwe speurder is heeltemal te groot vir sy skoene en noem homself sommer ‘Koning’. Kwaaikofski gaan dit nie net daar los nie en bedink ‘n Speurkompetisie om te bewys wie nou eintlik die dorp se speurkoning is.

Meisiekinders sal hierdie vakansie vir Lotta Liebenberg kan leer ken in My Lotta-lewe 1: Konyne by dosyne. In hierdie boek gee Alice Pantermüller die leser ‘n kykie na die tienjarige Lotta se lawwe lewe. Die storie word vergesel met oulike illustrasies van die karakters en hul doen en late, sodat jonger lesers ook die storie kan volg.

Lotta is baie doodgewoon, so sy verstaan nie hoekom daar die laaste tyd sulke snaakse goed met haar gebeur nie. By die skool verskyn daar vanself lelike goed op die bord en haar gunstelingkos smaak skielik soos spruitkool. Haar ma het boonop vir haar ‘n vreemde Indiese blokfluit present gegee. Die ergste is dat Lotta se beste vriendin, Chantelle omtrent 200 konyne in haar kamer het, maar nie eers een vir Lotta wil gee nie. Sy wil so graag haar eie troeteldier hê en besluit om ‘n ander plan te maak. Hope pret, humor en verrassings volg.

Laaste aan die beurt is Elizabeth Wasserman & Astrid Castle se Die Dingesfabriek: Jannus en Kriek Krimp. Dit is die rooikoptweeling Jannus en Kriek Knoets se derde avontuur saam met hul eksentrieke Oupa Dinges. Die drietjies was ook te sien in Jannus en Kriek op die maan en Jannus en Kriek onder die see.

Oupa Dinges wys in hierdie boek vir hulle sy nuutste uitvinding, die SuperMega-Vergroterstraal, wat ‘n enkele koringkorrel soos groot kan laat groei dat ‘n mens ‘n hele brood daarvan kan bak. Dinge loop egter skeef wanneer die laserstraal eers ‘n spieël, toe Jannes en sy oupa tref en hulle begin krimp en krimp.

Laevelder gee al vier hierdie boeke in een prettige vakansie-boekpakkie weg. Om te wen, antwoord hierdie maklike vraag:

Watter Dr Seuss boek in hierdie pakkie is van Engels na Afrikaans vertaal en wat is die oorspronklike naam?

Die sluitingsdatum vir hierdie kompetisie is Donderdag, 26 Junie, om 16:00. Wenners sal in kennis gestel word en sal die volgende dag, net betyds vir die vakansie, hul prys kan kom afhaal by Laevelder se kantoor.

Sien bepalings en voorwaardes hier.

13 Comments

  1. Groen eiers en ham by dr suess was told in english first green eggs and ham

  2. Die oorspronklike naam van die Dr Seuss boek is “Green eggs and Ham“; is toe vertaal in Afrikaans na “Groen eiers en Ham”

  3. Dr Seuss se boek wat vertaal is word genoem “Green Eggs and Ham” in Engels. In Afrikaans is dit “Groen Ham en Eiers” – lyk my die ham en eiers het van kleur verander :)

  4. Dr Seuss se boek “Green Eggs & Ham” – die Afrikaanse titel is “Groen Ham & Eiers”

 
Back to top button