Bergland se kriekethelde vier botoon in finaal
Die Bergies het egter uitstekende uithouvermoë gewys en koelkop gebly om die wedstryd met twee paaltjies te wen.
Laerskool Bergland se o/11-krieketseuns het ‘n uitsonderlike poging aangewend en hul staal in moeilike situasies getoon, toe hulle met slegs twee paaltjies teen Laerskool CR Swart van Middelburg in die Superskoolliga geseëvier het.
CR Swart het eerste gekolf en ‘n haalbare 133 lopies aangeteken. Bergland het geantwoord deur 134/8 aan te teken om as wenners uit die stryd te tree.
“Ons is baie trots op hierdie span, wat as Mpumalanga-wenners in die Superskoolliga gekroon is. Die seuns het gedurende die seisoen uitstekend gespeel om sodoende bo-aan die Elhanzeni-streekliga te eindig en na die uitspeelrondes, deur te dring,” het afrigter, Danie Erasmus gesê.
In die Mpumalanga-semifinaal het Bergland met Laerskool Goedehoop van Secunda afgereken om goeie momentum
vir die finaal te bou. Die span het teen
CR Swart, wat tot op hede onoorwonne was, in die finaal te staan gekom.
Dit was ‘n naelbytstryd waarin albei spanne op verskillende tye die botoon gevoer het.
Die Bergies het egter uitstekende uithouvermoë gewys en koelkop gebly om die wedstryd met twee paaltjies te wen.
Met die boulwerk het al die boulers ingeklim en die paaltjies tussen hul verdeel. Christo Nel het die teestanders se momentum egter gebreek deur twee van hul top-kolwers in twee balle skoon te boul.
Keenan Visser het die kolfbeurt mooi geanker om die fondasie vir die oorwinning te lê. Kyle Mcdonald het ‘n uitstekende vangskoot benut op die grens om die wedstryd in Bergland se guns te swaai.
“Ons wil al die seuns vir hul positiewe gesindheid bedank.
“Dit dien as voorbeeld vir oud en jonk. Ons wil ook graag die ouers bedank vir hul ondersteuning op die dag en gedurende die seisoen. Dit was ‘n ware inspirasie vir die seuns,” het Erasmus genoem.