Swemsensasie deel sy kennis met ander
Voormalige Suid-Afrikaanse swemsensasie, Jasper Venter het 'n een eenjaarkontrak by Uniswim Nelspruit as hoofafrigter, geteken. Venter het by die ervare, Detlef Schmitz wat sedert 2012 by Uniswim was, oorgeneem.
Die 28-jarige was deel van die 2008 Beijing Olimpiese Spele en het net die kwalifiserende tyd vir die 2012 Londen Spele met ‘n sekonde gemis. Daarna het hy nog ‘n jaar kompeterend geswem, maar toe besluit om eerder self met die stophorlosie in sy hand langs die swembad te staan.
Lees ook: Uniswim raap al die pryse by Somergala op
“Ek het meer as 16 jaar se ondervinding in die sport. Dit wat ek oor die jare geleer het kan ek nou in die swemmers terugploeg,” sê Venter.
Op die brose ouderdom van net 14 jaar, is Venter gekies om by die Universiteit van Pretoria se hoë prestasie-eenheid sy swemloopbaan voort te sit. Hier het hy onder Dirk Lange, wie tans die nasionale swemspan se afrigter is, geoefen. Met die oog op 2008, het die span na Seget in Hongarye getoer waar hulle ‘n oefenkamp saam met Sandor Ban, Cameron van der Burgh se afrigter, bygewoon het.
Venter was in 2009 en 2011 na die wêreldkampioenskappe, waar hy vir die aflosspan en in die vryslagitem in aksie was. Die herinneringe van die 2010 Statebondspele in Delhi, Indië sal hy vir altyd koester.
Lees ook: Six from NSA qualify for nationals
“Ons aflosspan (Darian Townsend, Jean Basson en Sebastian Rossouw) het ‘n bronsmedalje verower en daardie dag sal ek nooit vergeet nie. Dit was ‘n baie spesiale oomblik – al die harde werk wat ek ingesit het, het afbetaal. Dit is ook belangrik dat die atlete van Uniswim besef wat dit vat om daar uit te kom.”
Hy het in Noordwes grootgeword waar hy 74 rekords in die provinsie in vlinder- en vryslag gebreek het. Tussen 2007 en 2011 het hy ook sy land by in die Mare Nostrum-reeks in Europa verteenwoordig. By die Afrikaspele in 2011, het hy met drie medaljes weggestap.
“Daar is ‘n hele paar swemmers by Uniswim wat groot potensiaal wys. Dit gaan harde werk vat om vir die nuwe seisoen voor te berei. Ek sien uit na die toekoms van swem in die Laeveld en ek wil die geleentheid met albei hande gryp.”
Venter is ‘n gekwalifiseerde vlak-een-afrigter van die Amerikaanse Swem Afrigting Vereniging en is besig om sy vlak twee en drie te voltooi.
Lees ook: Mpumalanga swem vereer top swemmers
