Mengelmoes van Afrika-klanke lig die plafon
LYDENBURG - Voor hul Kaapse draai in Desember, het die Radio Kalahari Orkes eers die voete by De Ark Gastehuis laat jeuk.

En as die sukses van die optrede gemeet kan word aan die encore-versoeke, sou die groep nou nog aan’t singe gewees het.
Vir die wat nie weet nie, Ian Roberts, veteraanakteur en hoofsanger van die groep, woon al ‘n paar jaar op Lydenburg.
Lees ook: Boeke met je ne sais quoi
Hy en Fran le Roux het die skattigste 15-maande-oue tweeling en sy het een-een met hul op die heup gedans vir rukkies langs die kant terwyl pa op die verhoog was.
“Ek is ongelooflik trots op haar. Ek was agt maande sonder ‘n inkomste hierdie jaar. Dit raak ‘n lang tyd waarin ‘n mens moet doeke koop en aangaan. Fran is ‘n survivor,” het Roberts, gesê.


Gewoonlik wanneer hy met sy kitaar agter die mikrofoon inskuif, weet die gehoor die plafon gaan spreekwoordelik lig. En Vrydagaand is die verwagtinge weer eens oortref.
Alicia Oelofsen met haar raafswart hare wat om haar drappeer en energieke gespring terwyl sy trekklavier speel, het almal gehipnotiseer. Almal het aan dié nagtegaal met haar engelstem se lippe gehang.
Totdat Sloet (wie sal nou nie vir Roberts as die karakter in die TV-reeks, Arende onthou nie) dié aandag weer vinnig getrek het met ‘n mondfluitjie.
Saam met hulle op die planke was Barry Steenkamp wat met ‘n eietydse rock-klank die baskitaar bemeester. Die Radio Kalahari Orkes het hul huldeblyk aan Dawid de Lange hervat en aan ander genres soos kwêla, Afrika- en ghoemaklanke gehoor gegee. Hulle het ook van hul grootste treffers soos “Jolie Marie”, “Duiwel van Wyk”, “Renaissance”, “Transboer” en “Skeeloog Daisy” gesing.
Roberts het pas verfilm aan die TV-reeks, Reyka vir M-Net. Nog groot projekte wink vir volgende jaar.
“Ek is nou 41 jaar in die bedryf, ek het in 1979 begin. ‘n Mens moet net die regte mense op die regte tyd ontmoet en baie geloof hê dat dinge gaan uitwerk,” het hy met sy sterk Engelse aksent vertel. Hy het immers op sy pa se sitrusplaas in die Oos-Kaap grootgeword, maar ‘n mens sal moeilik raai sy wortels is Engels as jy dit teen sy sukses in die Afrikaanse vermaakbedryf meet. Hy praat vlot Xhosa en het van kindsbeen af musiek gemaak saam met die plaasmense.
Tydens die vertoning by De Ark het hy ook stories vertel oor filmstelle waarop hy al gewerk het. Soos die Britte wat die verfilming van ‘n fliek in 1981 so lank as moontlik uitgerek het. Vir hulle was die werk op die uitgestrekte wit strande eerder ‘n vakansie. Maar Roberts wou klaarkry om saam met ‘n aktrise te gaan “polka”, het hy met ‘n vonkel in die oog vertel. Die gehoor het aan dié storieverteller se lippe gehang.
En die arme beeste wat by die Sammy Marks-museum deur ‘n swerm bye gesteek is, was weer ‘n ander storie. Tot ‘n Britse regisseur se skok moes hy vinnig leer dat ‘n trop Afrika-beeste nie aan hulle laat voorskryf nie. Hulle steek vas of hou aan wei. ‘n Swerm bye het oor die vlaktes aangezoem gekom en Roberts is nie eens gesteek nie. Terwyl die ambulanse op die N1 nader gepee-poo het, het hy vir homself gesê dis omdat hy soos Afrika ruik en lyk dat hy die steke vrygespring het.
Radio Kalahari Orkes se liedjies vertel stories met humor en is gebaseer op die lewe in Suid-Afrika met woordspelings wat eie is aan die land. Om te sê dat die orkes Suid-Afrikaanse volksmusiek bevorder, is nie sterk genoeg gestel nie.
Die menswees van karakters word vasgevang en vertolk tot iemand in die geestesoog “balke toe” gil, soos in die ou dae.
Lees ook: Stropers op heterdaad betrap
