MBOMBELA – Mnr. Jan Venter, voormalige huisbestuurder van sakeman dr. Mathews Phosa, wat deur laasgenoemde vir bedrog en diefstal gedagvaar is, gaan dié regstryd in die strafhof tegemoet met een van die land se beste strafreg-advokate aan sy sy.
Die siviele vonnis wat teen hom toegestaan is, is Donderdag ter syde gestel.
Laevelder het vroeër berig dat Phosa vir Venter in twee howe aanspreeklik wil hou vir sy beweerde bedrog en diefstal. Strafregtelike klagtes is teen Venter ingestel in die Witrivier Landdroshof en hy is in die Nelspruit Landdroshof vir R53 526,86 gedagvaar.
Die bewerings teen Venter vloei daaruit voort dat hy tydens sy indiensneming by die Phosas sekere uitgawes namens hulle moes aangaan. Volgens hofdokumente in die siviele aansoek teen hom, is bedrae geld in sy rekening oorbetaal. Daar is glo van hierdie bedrae waarvoor Venter nooit verantwoording gedoen het nie.
Die siviele hof het in Maart vanjaar vonnis by verstek teen hom toegestaan. Hierdie vonnis is egter Donderdag in die Nelspruit Landdroshof deur die landdros, mnr. Edward Hall, ter syde gestel met koste.
Die strafregtelike klagtes teen Venter spruit voort uit dieselfde bewerings en het op 22 Junie in die Witrivier Landdroshof gedraai. Venter se prokureur, mnr. Koen Koekemoer, het op rekord geplaas dat strafreg-advokaat mnr. Mike Hellens instruksie sou ontvang om sy kliënt op 23 en 25 Sepember te verteenwoordig.
Hellens het onlangs vir mnr. Christopher Panayiotou, wat daarvan verdink word dat hy sy vrou, me. Jayde Panayiotou laat vermoor het, verteenwoordig. Hy het nog ‘n kliënt, rekenmeester mnr. David Cunningham, in 2013 verteenwoordig. Laasgenoernde het hoofopskrifte gehaal toe hy aangekla is van sy bydrae in ‘n R160 miljoen aandeletransaksie waar aandele na bewering bedrieglik aan die Fidentia Holdings-groep verkoop is. Cunningham is egter vrygespreek.
Hierdie hooggeagte advokaat het ook destyds die oorlede mynmagnaat mnr. Brett Kebble in die hof verteenwoordig.
Hellens het in 2014 as waarnemende regter in die Suid-Gauteng Hoë Hof opgetree. Hy het die ANC se dringende aansoek met koste van die hand gewys wat die DA se verspreiding van ‘n SMS wat hul as diewe bestempel na die Nkandla-debakel, wou stuit.
Koekemoer het verder op rekord geplaas dat die verhoor waarskynlik vir twee dae sal duur en bevestig dat twee dae op die hofrol bespreek is vir die sake teen Venter. Laevelder het vroeër berig dat hy ‘n aanrandingsaak teen Phosa se sekuriteitshoof, mnr. Pieter van Zijl gelê het. Dié saak is in Junie in die Witrivier Landdroshof teruggetrek en nog nie weer aanhangig gemaak nie.