Derde plek vir NHS in Noord-Suid T20
Hoërskool Nelspruit se eerste krieketspan was uitgenooi om aan die eerste van sy soort, die Noord-Suid T20-reeks, wat in en om Pretoria beslis is, deel te neem.
NHS is die enigste provinsiale span wat verlede week in die toernooi in aksie was.
Skole vanuit die noorde wat deelgeneem het, was hoërskole Waterkloof, Centurion, Menlopark, Rustenburg, Noordkaap (Kimberley), Grey Kollege Bloemfontein en Hoër Volkskool Potchefstroom.
Uit die suide het Bishops (Kaapstad), Paarl Gimnasium, Wynberg Boys High (Kaapstad), Westville College (Durban), Glenwood (Durban), Northwood (Durban) en St Andrew’s (Grahamstad) ook na Pretoria getoer.

NHS het die reeks met ‘n oorwinning teen Glenwood (twee paaltjies op die laaste bal) afgeskop en die volgende dag met vyf paaltjies teen Rustenburg gewen.
Volgende op NHS se kerfstok was Paarl Gim vir wie hulle met agt paaltjies baasgeraak het.
In die kwarteindstryd, het NHS die manne van Kloof met vier paaltjies geklop maar het net-net met 70 lopies teen Menlo, wat as toernooiwenners aangewys is, verloor.
Nelspruit het uiteindelik derde geëindig nadat hulle Grey Kollege (Bloem) met 46 lopies uitoorlê het.
