Versteekte klippies kikker enige saai dag summier op
Om onverwags op 'n geverfde klippie met 'n spesiale boodskap af te kom kan enige saai dag opvrolik. As 'n mens eers op een afgekom het, hou jy jou oë oop vir nog en kort voor lank het die gogga gebyt.

Dié klipmanie, die Kindness Rock Project, het die wêreld getref en miljoene mense verf en jag verwoed na klippe. Van Amerika tot in Australië deel mense foto’s van die pragtige geverfde klippe wat hulle ontdek. Die Facebook-groep, Cape Town Rocks, het binne ‘n paar maande tot 13 000 lede gegroei en van Kaapstad, Stilbaai, Hartenbos, Gansbaai en Kleinmond steek mense vir mekaar klippies weg om te ontdek.
Lees ook: Wyngilde vier 34 jaar se broerskap en samesyn
Corrie van der Merwe en Nadia Hunter van Lydenburg het per toeval op die gier afgekom en het ook nou vir Lydenburg ‘n bladsy geskep, Mashishing/ Lydenburg Rocks. “In 2020 het almal se gemoedere gedaal en ons het begin klippe verf, wegsteek en sosiale media dopgehou vir wanneer iemand dalk die klippe in ‘n ander dorp ontdek. Die doel is om kreatiwiteit, die buitelug en uitreik na jou medemens aan te moedig. Dit is die grootste lekker as iemand in ‘n ander dorp jou klip ontdek – soms met boodskappe van liefde, droomwense en selfs Bybelverse. Ons ontspan lekker en dis soos terapie terwyl ons verf.

“Die idee is om vreugde aan die persoon wat dit vind te gee, maar dit is altyd ‘n plesier om te sien waarheen jou klippie gereis het. Sodra jy een klippie geverf het, kan jy nie ophou nie,” het Van der Merwe gesê. Op sosiale media is mense dol hieroor en beskryf hulself as “rock hunters”. Dit bring werklik baie vreugde vir baie mense; vir diegene wat dit verf, maar ook vir diegene wat dit ontvang. Nadat die klippie geverf is plak hulle ‘n spesiale plakker agterop die klip waarop die sosiale media se groepnaam staan.
Die ontdekker moet die klippe afneem en op die bladsy plaas. Hulle kan self besluit of hulle die betrokke klip wil hou of weer vir iemand anders wegsteek. Dis ideaal om dit weg te steek waar mense gereeld kom en nie verwag om in ‘n kleurvolle kunswerkie vas te loop nie, soos ‘n skool se parkeerarea. WhatsApp Van der Merwe by 081 748 8733 of Hunter by 064 658 7038, maar dis ideaal om net by die Facebook-blad, Mashishing/ Lydenburg Rocks, aan te sluit en te begin klippe verf.
