Local news

Bome erken vir hul geskiedkundige waarde in Lydenburg

Die Boslelie Tuinbouklub het vier bome in die dorp geïdentifiseer wat hulle reken moet beskerm word.

Op Dinsdag 16 Augustus het die lede na afloop van hul vergadering by Dankhof Gastehuis, naamplaatjies op die bome aangewend en ’n strik daarom gaan bind.

Die eerste boom wat ’n spesiale druk en strikkie gekry het was die Trots van Indië in die gastehuis se tuin. Die eienaar van Dankhof, Karel Viljoen, reken dat die boom reeds 83 of 84 jaar oud is. Die boom is gekies oor sy mooi, gladde stam en dit is ongewoon dat dit so oud word.

Hennie Dreyer, Annetjie Ackerman en Magda de Jager (voorsitter) by die boom op die NG Moedergemeente se gronde.

Die tweede boom staan op die gronde van die NG Moedergemeente. Daar is geskiedkundige foto’s wat aandui dat hierdie boom reeds in 1892 daar gestaan het. Dit is sigbaar op ou nagmaalfoto’s wat van De Ark Gastehuis, toe die kerk se pastorie, se dak geneem is. Die derde boom is die boenjaboenja (Auracaria bidwillii) wat in Burgerstraat geleë is. Elke jaar vanaf November tot April slaap die oostelike rooipootvalk (Falco amurensis) hierin. Die roofvoëls migreer vanaf hul broeigronde in Oos-Rusland en Noord-China.

Gerrie en Annatjie Swart, Hester le Roux, Gé Reingruber, Elsa Burger en Louise Broekman by die Dankhof Gastehuis.

Dis ’n afstand van ongeveer 12 000 km. Die valkies het vir jare in hierdie boom kom intrek, maar is jare laas gesien. Die vierde boom wat ’n naamplaatjie ontvang het, is een van die in Buhrmannstraat se bloekomboomlaning. Die boom is ook gekies vir sy mooi gladde stam.

Dit is van die oudste bome in die dorp. Daar is foto’s van die vroeë 1900’s in die Lydenburg Museum waar inwoners hieronder pieniek hou. “Ons is bewus daarvan dat hierdie bome uitheems is, maar omdat hulle al vir soveel jare uittroon, wil ons mense eerder net bewus maak van die ou grotes,” het Magda de Jager, die voorsitter, gesê.

Die hele tuinbouklub by die sipres op die NG Moedergemeente se gronde.
Inligting rakende die oostelike rooipootvalk (Falco amurensis).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button