AnimalsEnvironmentalLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Arendsoë vir park se forensiese spanne

Forensiese werkers kan DNS-monsters vinniger insamel as hulle vlieg, as wanneer hulle moet ry. Die uitsig vanuit die helikopter stel hulle ook in staat om karkasse vinniger op te spoor.

MBOMELA – “Ek is niemand spesiaal nie. Ek is net passievol oor bewaring en lief vir vlieg.”

Tokkie Botes is beskeie oor sy rol in anti-renosterteenstropery-operasies in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW), maar sy bydra as helikoptervlieënier is eintlik van onskatbare waarde. Die enigste hindernis wat die projek in die gesig staar, is die gebrek aan borge.

Botes, ‘n sakeman van Skeerpoort in Gauteng, is in September verlede jaar deur Hugh Payne, ‘n NKW-ereveldwagter, genader om forensiese spanne van een renosterkarkas na die volgende te vlieg met die doel om DNS-monsters van die karkasse te neem en moontlik die stropers vas te trek. Hy het die gebruik van een van sy helikopters, ‘n Bell Jet Ranger 206, sowel as 50 vliegure aan die projek geskenk.

“As dit by bewaring kom, help ek waar ek kan.”

Botes sou al sy tyd en geld aan die projek bestee as hy kon, maar hulle kort nou dringend borge vir brandstof. Buiten die geborgde vliegure, het Tokkie reeds tussen 80 en 90 uur gevlieg.

Hy is die enigste onafhanklike vlieënier wat lid van die projek is. Saam met hom vlieg die weermag, polisie en die NKW ook met hulle vliegtuie en helikopters.

Verlede jaar het hy van die uitvoerende lid van die ereveldwagters se fondsinsame-lingskomitee, David Webster, toestemming ontvang om fondse namens SANParke in te samel, maar dit was tot dusver geen maklike taak nie.

“Ons sukkel om borge te kry. As ons borge kan kry, kan ons die operasie vir baie langer aanhou. Ek dink nie mense weet wat ons doen of hoeveel so ‘n operasie werklik kos nie.”

Forensiese werkers kan DNS-monsters vinniger insamel as hulle vlieg, as wanneer hulle moet ry. Die uitsig vanuit die helikopter stel hulle ook in staat om karkasse vinniger op te spoor.

“Ons wil eintlik so gou as moontlik by die karkas uitkom om so vroeg as moontlik op die stroper se spoor te kom. As die bewyse nog vars is, maak dit die arrestasies soveel makliker en vinniger. Botes kon nie kommentaar lewer op die vraag of hulle stropers uit die lug uit kan sien nie, maar sê hul projek fokus meer op forensiese werk ná die stropery.

“Ons doen maar meer die vuil werk van teenstropery. Ons kom by die toneel as die dier reeds dood is. Ek kan wel sê dat die helikopter se toevoeging tot die projek van onskatbare waarde is. As veldwagters te voet of te kar moes beweeg, is hul aanslag baie beperk. Uit die lig uit, sien ons omtrent tien keer soveel karkasse per dag as wat die wagters te voet sien,” het hy gesê.

Tokkie is al sy hele lewe lank by teen-stropery-groepe betrokke. “Ek werk al jare saam in luiperd-teenstropery en werk gereeld met plase in Noord-Wes, Limpopo en Mpumalanga.”

Vir meer inligting oor sy operasies en terugvoer oor sy betrokkenheid, besoek sy Facebook-blad, Flying for Freedom. Diegene wat graag ‘n bydra tot die fonds wil lewer, kan skenkings direk aan die SANParke Erewagtersorganisasie maak. Navrae: www.sanparksvolunteers.org

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button