Community galleriesEntertainmentGalleriesLifestyleLocal newsLocal sportNewsSportSports galleries

Mans in Speedo’s baljaar in strate vir kanker

DULLSTROOM is die afgelope naweek nie net spreekwoordelik rooi geverf toe brawe manne regoor die land byeengekom het om kankerbewustheid onder mans te bevorder nie, maar hardlopers het letterlik ‘n metamorfose ondergaan toe KANSA-organiseerders hulle met blikke rooi verf bygedam het.

DULLSTROOM – Die dorp is die afgelope naweek nie net spreekwoordelik rooi geverf toe brawe manne regoor die land byeengekom het om kankerbewustheid onder mans te bevorder nie, maar hardlopers het letterlik ‘n metamorfose ondergaan toe KANSA-organiseerders hulle met blikke rooi verf bygedam het.

Met die fokus hoofsaaklik op prostaat- en testikulêre kanker, kon mens ‘n bypassende uitrusting te wagte wees, maar toe die manne elkeen met ‘n knap rooi stukkie lap – beter bekend as ‘n speedo – in die strate baljaar, het niksvermoedende verbygangers behoorlik hulle nekke 360 grade gedraai. En net toe almal lyk of hulle aan dié vreemde idee begin gewoond raak, verskyn die Parlotones se Kahn Morbee verdoesel agter ‘n bruinbesmeerde, Afrika-inspirerende “bachelors”-pakkie. Hy het ook toevallig die naweek sy laaste tikkie vryheid voor die getroude lewe in dié idilliese Hoëveldse dorpie kom vier.

Alhoewel hierdie dag in ligte luim geskied het, het dit veel meer betekenis gedra en kosbare herinneringe van geliefdes wat die stryd teen kanker verloor het, opgeroep. Belangriker egter het dit het ‘n boodskap van hoop gedra. Met die wêreldberoemde Suid-Afrikaanse groep wat onlangs hul vyfde album, Standing like giants, vrygestel het, kon atlete nie vir ‘n beter snit as dié gevra het om hierdie vlam van hoop aan te steek nie. “Standing like giants” is geskryf om temas soos eenheid en eenvormigheid aan te spreek met die doel om enigiets wat moontlik in jou pad kan staan, te oorkom. Dis die tipe lied waar luisteraars kan visualiseer hoe duisende mense met een doel voor oë ‘n eenheid vorm om dit te oorkom wat in hulle pad staan,” vertel Morbee.

“Met hierdie wedloop moedig ons alle Suid-Afrikaanse mans aan om kragte saam te snoer om kanker uit die dorp uit te jaag, vertel Carel Nolte, woordvoerder van Etana, wat die wedloop vyf jaar gelede geïnisieer het en dit sedertdien borg. “Ons wil manne hierdeur bewus maak van die waarskuwingstekens van kanker en maniere om risiko te verminder,” sê Nolte.

“Die DAREdevil-boodskap is duidelik: Bewustheid en vroeë opsporing red lewens. Ons mikpunt vanjaar is om die diversiteit van ouderdom en belange van diegene wat vanjaar vir die wedlope inskryf en dit in agt stede gaan aandurf, radikaal uit te brei.”

Volgens die SA Nasionale Kankerregister van 2005 se statistiek is kanker een van die grootste gesondheidsrisiko’s wat mans in die gesig staar. Statistiek toon dat een uit elke 24 mans met prostaatkanker gediagnoseer word – dis die mees algemene kanker onder Suid-Afrikaanse mans, terwyl testikulêre kanker die mees algemene kanker by mans tussen die ouderdomme van 15 en 39 jaar is.

Die DAREdevil-wedloop, soos wat hierdie wedren bekendstaan, het in 2009 gestalte gekry toe ‘n ‘n ouditeur en ‘n paar van sy vriende in ‘n restaurant gesit en kuier het en een van hulle uitgedaag is om in ‘n speedo deur spitsverkeer te hardloop. Nadat daar met Etana-versekering beraadslaag is, is ‘n paar honderd manne oorreed om dit te doen vir die stryd teen kanker. As deel van KANSA se gesondheidsveldtog vir mans gedurende November, het KANSA en Etana sederdien gesorg dat hierdie wedloop ‘n jaarlikse instelling word en sodoende verseker dat dit vir die vyfde keer gehardloop is om bewustheid onder mans te bevorder.

‘n Totaal van 5 000 manne het die afgelope naweek deelgeneem en meer as R500 000 is ingesamel wat vir mense wat deur kanker geraak word gebruik sal word.

Dit was die eerste keer wat dit in Dullstroom plaasgevind het en volgens Angela Rodi, streeksbestuurder van KANSA, gaan hulle poog om dit ‘n jaarlikse instelling in hierdie dorp te maak.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button