Local news

Laevelder se kookdroom word uinteindelik ‘n werklikheid

Jeanette Relling gaan op 5 November as een van vanjaar se Kokkedoor Klassiek-deelnemers op die kassie verskyn.

Op 67 het Jeanette Relling, ‘n inwoner van die stad, besluit om haar droom om aan een van kykNET se gewilde kookprogramme, Kokkedoor Klassiek, deel te neem, ‘n werklikheid te maak. Ná jare se uitstel het haar jarelange vriendin haar uiteindelik oortuig om op die sluitingsdatum in te skryf. Tydens die oudisie moes elke kok ‘n gereg met bestanddele uit ‘n mandjie voorberei. Relling het ‘n kerriehoendergereg gemaak wat die beoordelaars beïndruk en haar ‘n plek in die kompetisie besorg het.

Jeanette Relling.

“Ek het nooit in my wildste drome gedink hulle sal my kies nie,” vertel sy.

Vanjaar se tema is klassiek, met die fokus op tradisionele geregte wat met ‘n nuwe kinkel opgedien word om geliefde onthoukos op ‘n vars manier lewend te hou. Die kompetisie bestaan uit 10 kinkelkokke en 10 onthoukokke, wat in gemengde spanne saamwerk.

“Dit was interessant om saam met verskillende mense te werk. Alhoewel die kinkelkokke meer weet, weet die onthoukokke ook ‘n ding of twee,” sê sy tong-in-die-kies. Relling neem as ‘n onthoukok deel en is boonop die oudste deelnemer in die kompetisie.

LEES OOK: Badplaas boer vind nuwe liefde ná Boer Soek ‘n Vrou

“Ek is dalk oud, maar nie koud nie,” sê sy laggend.

Haar liefde vir tradisionele kos het reeds op ‘n jong ouderdom in Barberton begin, waar sy saam met haar ouers en susters grootgeword het.

“My pa kon baie lekker kos maak. Ek onthou hoe hy op Saterdae slaghuis toe gegaan het, waarna ek en my twee susters hom gehelp het om die vleis voor te berei. Hy het altyd gesê die een wat help in die kombuis, is die kok se luis.”

Haar passie vir tradisionele kos het later ook in haar eie huis neerslag gevind. Een van haar gunstelingmaaltye om vir haar familie voor te berei, is ontbeende, gerolde skaapblad met bruin aartappeltjies en groente. Deelname aan die program was egter heelwat anders as om vir haar gesin kos te maak.

LEES OOK: Laeveld-boere moer en koer op die kassie

“Ek was aanvanklik baie benoud voor die kameras, maar ‘n mens raak ná ‘n rukkie daaraan gewoond. Dit was ook intimiderend om voor die bekende beoordelaars kos te maak,” erken sy.

Gedurende die drie weke op stel het sy nuwe vriende gemaak en baie oor haarself geleer.

Vanjaar se Kokkedoor deelnemers saam met die beoordelaars.

“Ek is eintlik dapperder as wat ek gedink het. Dit was ook interessant en soms uitdagend om saam met verskillende mense te werk,” sê sy.

Volgens Relling kan kykers uitsien na ‘n paar verrassings wanneer die kinkel- en onthoukokke hul vaardighede kombineer.

“Die program speel op die mooiste ligging af, en kykers gaan verras wees deur die nuwe kinkels en die geregte wat hulle gaan sien. Daar is dinge in geliefde geregte wat hulle nie sal verwag nie,” sê sy.

Die eerste episode van Kokkedoor Klassiek word op 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button