Rian’s Love Tour kuier in Lydenburg
Jacaranda FM, Suid-Afrika se enigste kommersiële radiostasie in privaatbesit, het onlangs in die dorp kom flikkers gooi.
LYDENBURG – Jacaranda FM, Suid-Afrika se enigste kommersiële radiostasie in privaatbesit, het onlangs in die dorp kom flikkers gooi.
Die toer, genaamd Rian’s Love Tour, is besig om verskeie dorpe in Mpumalanga te besoek. Die Mpumalanga toer het Sondag en Maandag in Witbank afgeskop waarna die groep eers Middelburg en toe Lydenburg Dinsdag besoek het.
Annbieders, Rian van Heerden, Dianne Broodryk, Robbie Kruse, Thabiso Khambule en MalJan, het die dorp behoorlik op horings geneem tydens die regstreekse uitsending buite Longtom SUPERSPAR.
Hoërskool Lydenburg (LHS) het ook vroegoggend ‘n draai by die uitsending gemaak. Die span het net voor dit van Magda van Biljon (die Wielie-Walie tannie) gepraat. Die skool het besluit dat hulle iets spesiaal vir Van Biljon wou doen en die Jacaranda-span het haar tydens die uitsending gekontak.
Die leerlinge het toe hulle eie weergawe van die temalied vand die geliefde kinderprogram Wielie-Walie vir haar gesing. Van Biljon het gesê dit sou wonderlik wees as sy altyd so wakker kon word. “Ek het trane in my oë. Baie dankie Lydenburg, julle het my dag gemaak.”
Rian het ook tydens die uitsending met die burgemeester van Thaba Chweu, Michael Ncongwane, gepraat, spesifiek oor die toestand van die omgewing se paaie. “Ons het vanaf die hotel tot hier 15 slaggate getel.
Jy is tog die baas van die plek, hoekom lyk dit so?” het hy vir Ncongwane gevra. Laasgenoemde het geantwoord dat hy nie noodwendig die baas is nie, maar ‘n dienaar van die mense. “Ek is nog net 14 maande die burgemeester.” Nconwane het erken dat die munisipaiteit verskeie uitdagings in die gesig staar. Rian het egter vir hom gesê dat hy baie geskok oor die toestand van die dorp se paaie was.
“In party van die gate kan jy selfs klein diere vang. Hoekom word die gate nie herstel nie?”
Ncongwane se verweer was dat van die slaggate wel herstel is maar met die reënseisoen weer verbrokkel het. Rian het hom nietemin herhinner dat dit sy verantwoordelikheid is om seker te maak dat die paaie veilig is vir motoriste.
Hy het bygevoeg dat wat die munisipaliteit ookal hier probeer doen duidelik nie werk nie. “Met wat maak julle die gate reg, sand?” Ncongwane het erken dat van die werkers met tye die gate met sand vul. “Dit is verkeerd. Ons herstel egter ander paaie met die korrekte materiaal.”
Riaan het ook aan hom gesê dat hy opgemerk het dat die burgemeester ‘n groot 4×4-voertuig ry. “Jy kan lekker deur die gate ry en ander mense moet hulle bande keer op keer herstel.”
Hy het vir Ncongwane vir ‘n datum vir ‘n opvolgbesoek om te sien of daar enige herstelwerk aan die paaie gedoen is, gevra. Dié het egter gesê dat hy nie homself tot ‘n datum kon verbind nie.
Steelburger/Lydenburg Nuus het na die direkte uitsending ‘n geleentheid gehad om ‘n onderhoud met Rian te voer voordat hulle weer by hulle besige skedule ingeval het.
Die koerant wou weet wat die algemene reaksie op die toer tot dusver was. Hy het gesê dat dit was baie beter as wat hulle verwag het. “Ek moet sê ek het lanklaas sulke gasvryheid buite Gauteng ervaar. Ons het gegaan om die liefde te wys, maar liefde word vir ons gewys. Dis verstommend, veral hier in Lydenburg. Wat ons gisteraand gesien het kan jy nie vir mense beskryf nie, dis ongelooflik.”
Die koerant het ook gevra wat van die burgermeester se antwoorde gedink het. “Ons het dit al alles vantevore gehoor. Daar is niks nuuts nie. Dis vir my interessant dat hy homself nie tot enige datums kan verbind nie. Dis ook nie vir my verrassend nie.”
Vir hom was die hoogtepunt van hulle toer in Limpopo toe hulle die grootste ou kremetartboom in die wêreld gesien het. “Die boom is iets soos 2 000 jaar oud. Die is amazing, net om daardie geskiedenis te ervaar en ek sal sê die ander oomblik was gisteraand hier. Die mense se reaksie en liefde was wonderlik.”
Die toer het na Lydenburg na Pilgrim’s Rest en Sabie vertrek. Hulle sal ook Witrivier, Baberton en Hazyview besoek voor die program in Nelspruit afgesluit sal word.
