Oempa-orkes vermaak Laevelders tydens Windhoek-bierfees
Oktoberfest het ‘n ryk geskiedenis en het reeds in die vroeë 1800’s in München, Duitsland ontstaan toe die publiek genooi is om die bruilof van Prins Ludwig en Prinses Therese in 1810 saam te vier.

MBOMBELA – Die Hofbrau-oempaorkes het Laevelders Vrydagaand op ‘n unieke en eg Duitse wyse vermaak toe The Pub die eerste restaurant in Mbombela geword het om die Windhoek-bierfees op tuisbodem aan te bied.
Buiten die feestelike atmosfeer wat reeds van vroeg af geheers het, is begeesterde bierfeesgangers verder deur tradisionele drinkliedjies geïnspireer om ook hulle sangtalent ten toon te stel. Met die aand goed op dreef en almal in ligte luim, is daar ‘n kompetisie gehou om te kyk wie die grootste dors het – of eerder, wie se keelgat die grootste is. Mnr. Gideon van Zyl het sy mededorstiges op hul neuse laat kyk toe hy sy bier binne enkele sekondes weggesluk het.
Volgens mnr. Ettienne Coetzee, mede-eienaar van dié restaurant, het hul besluit om Oktoberfest, die wêreld se grootste jaarlikse bierfees wat hoofsaaklik in Duitsland gevier word, ook hier te hou. “Dit was ‘n redelike groot sukses en ons beoog om dit ‘n jaarlikse instelling te maak. Ons is reeds besig om volgende jaar se fees te beplan en Laevelders kan uitsien na ‘n selfs nog groter en beter fees,” het Coetzee gesê.
Oktoberfest het ‘n ryk geskiedenis en het reeds in die vroeë 1800’s in München, Duitsland ontstaan toe die publiek genooi is om die bruilof van Prins Ludwig en Prinses Therese in 1810 saam te vier. Vandag word dit steeds deur ‘n 16 dag lange bierfees in München herdenk en word dit as een van die grootste feeste ter wêreld beskou.
In 2014 was daar ongeveer 6,3 miljoen besoekers by dié fees. Daar is 112 beeste geslag en 6,4 miljoen liter bier is gedrink.






















