Campbells skop stop of by Stables
Met dié spesiale vertoning wou hulle die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning bedank en daarom het hulle besluit om alle fondse aan KANSA te skenk.

MBOMBELA – Country-liefhebbers het reeds vroeg Vrydagaand by Stables tougestaan om die geliefde twee broers, Harry en Tony, oftewel Die Campbells, in lewende lywe te sien.
Soos oudergewoonte het hulle vir ‘n onvergeetlike vertoning gesorg toe daar tot laataand musiek gemaak is en dit ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA). Met dié spesiale vertoning wou hulle die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning bedank en daarom het hulle besluit om alle fondse aan KANSA te skenk.
Met “Bietjie Bietjie Lam”, ”Sewe Soene” en goue oues wat onder andere ”The Gambler” insluit, het hulle reeds van vroeg af die voete laat jeuk en bewys waarom hulle nie net as een van die mees suksesvolle kunstenaars bekend staan wanneer dit by gesinsvermaak kom nie, maar ook hoekom daar ‘n reeks toekennings teen hul mure pryk wat onder andere ‘n Sama vir die beste sokkiedansalbum insluit.
Hulle vermaak Suid-Afrikaanse gehore al sedert 2000 en het reeds ‘n hele paar platninumtoekennings asook ses topverkoper DVD’s ingepalm.
“Dit was ‘n groot sukses en ons bedank elke persoon, besigheid en betrokkene wat die aand onvergeetlik gemaak het,” het een van die organiseerders, Yolanda Steenkamp gesê.
Volgens Steenkamp het ongeveer 300 mense die geleentheid bygewoon.






















