Chameleon bekoor die gehoor
Chris was sy sjarmante self en die gehoor, wat die teater propvol gesit het, het elke staaltjie en grappie verorber.
WITRIVIER – Chris Chameleon se vertonings stel nooit teleur nie. Hy kan dinge met sy stem vermag wat jy nie gedink het moontlik is nie – van die diepste basnoot tot die hoogste klanke waarvan sommige soprane net kan droom.
Sy vertoning by Casterbridge Vrydagaand het egter alle verwagtinge oortref. Chris was sy sjarmante self en die gehoor, wat die teater propvol gesit het, het elke staaltjie en grappie verorber. Dalk was dit sy jare van dramastudent wees wat hom so gemaklik op die verhoog gemaak het, wat dit ook al is,
daar was nie ‘n oomblik van verveling nie.
Toe die punk-groep Boo! in 2004 ontbind het, het Chris besluit om na die silwerskerm terug te keer. Hy het die rol van Liam in 7de Laan gekry. ‘n Joernalis vra toe vir hom of aanhangers ‘n solo-album van hom kan verwag. Hy “doen toe iets wat hy nooit doen nie”. Hy lieg toe en sê: “Ja.”
“Ek het dit die volgende dag in die koerant gelees en dit forseer my toe om ‘n solo-album uit te reik. Dieselfde joernalis maak toe ‘n grappie en vra vir my of ek ‘n sangbundel van Ingrid Jonker se gedigte gaan maak, waarop ek antwoord: ‘Sjoe, hoe het jy dit geweet?’ En só maak ek toe ook een van die beste besluite van my lewe,” het hy vir die gehoor vertel.
Chameleon het ‘n verskeidenheid van sy ou en nuwe treffers gesing. Die inspirasie vir sommige van die nuwes het van ‘n jong digter van Stellenbosch gekom. Daniella Deyesel het hom só met haar digkuns beïndruk dat hy haar gedigte ook in liedjies omskep het. Sy het hom nou weer onkant gevang toe sy op ‘n dag saam met hom begin sing het. Die twee het toe ook die liedjies saam opgeneem.
“Sy het gesê sy sing net in die stort. Ek het toe gevra of ek kan kom luister… Oukei, ek het dit nie regtig gesê nie, maar ek het dit definitief gedink.”
Die groot verrassing van die aand was toe Daniella by hom op die verhoog aangesluit het om ‘n paar van haar gedigte saam met hom te sing.
Net voor sy optrede was Chameleon aan die hoof van ‘n werkswinkel in stembeheer vir die studente van Casterbridge-musiekontwikkelingsakademie (CMDA). Een student sê dit was ‘n eer om saam met hom te werk. “Hy is baie snaaks en het dit vir ons maklik gemaak om te verstaan. Hy is ongelooflik talentvol en ons het baie by hom geleer.”
Zanel Graham.
















































