Ohrigstad dring deur na die finaal van liga
Die eindtelling het gewys dat Ohrigstad Rugbyklub dit verdien om na die finaal deur te dring. Hulle reis hierdie naweek na Komatipoort om sake teen hierdie rugbyklub, ook bekend as die Impalas, uit te spook
OHRIGSTAD – Dit was nie net die Springbokke wat verlede Saterdag getriomfeer het nie. Ohrigstad Rugbyklub se span het ook na ‘n harde wedstryd teen Hazyview Rugbyklub in die Mpumalanga Laeveld-liga met ‘n eindtelling van 21-9 na die finaal deurgedring.
Met die afskop wou die wedstryd aanvanklik nie op dreef kom nie, maar na 20 minute het dit in ‘n klipharde kragmeting ontwikkel. In die eerste helfte kon Ohrigstad slegs twee strafskoppe aanteken terwyl Hazyview met drie strafskoppe geslaag het. Teen rustyd was die telling 6-9 in Hazyview se guns.
In die tweede helfte was die Ohrigstad-spelers meer begeesterd en het hulle fiksheidsoefeninge vrugte afgewerp met Llewellyn Richards, Riaan Steyn en Stefan Rolling wat oor die doellyn gaan kuier het. Martin van den Berg het al drie die drieë verdoel en is ook as beste agterspeler van die wedstryd aangewys. Riaan Steyn was die beste voorspeler.
Die eindtelling het gewys dat Ohrigstad Rugbyklub dit verdien om na die finaal deur te dring. Hulle reis hierdie naweek na Komatipoort om sake teen hierdie rugbyklub, ook bekend as die Impalas, uit te spook. “Ons verwag niks minder as ‘n harde wedstryd nie. Ons het met ‘n vorige kragmeting gelykop teen hulle gespeel,” sê Quartus du Toit, mede-afrigter van Ohrigstad Rugbyklub.
