Mans dra rokkies vir liefdadigheid
Mans wat deelgeneem het, moes ‘n rokkie of romp dra en hulle is ook nie toegelaat om hul drywerstokke te gebruik nie
STEELPOORT – Tydens Saterdag se gholfdag by Tubatse Chrome Club was dit moeilik om te onderskei tussen die manlike en vroulike geslag.
Mans wat deelgeneem het, moes ‘n rokkie of romp dra en hulle is ook nie toegelaat om hul drywerstokke te gebruik nie.
Izelle van Staden en Loralyn Botha, die organiseerders, het die inisiatief gebruik om die manlike geslag behoorlik deel te maak van Vrouemaand.
Boetes van R100 is uitgereik aan elke manlike deelnemer wat nie die vereistes nagekom het nie. Elke deelnemer moes ook ‘n pienk kledingstuk dra ten bate van KANSA en alle geld wat die dag ingesamel is, is ook aan KANSA geskenk.
Die kompetisie het uit nege gaatjies bestaan en elke deelnemer het iets ontvang tydens die prysuitdeling vir hul deelname.
“Ons het ‘n goeie dag gehad, vol pret en ons kon ‘n goeie skenking aan KANSA maak. Baie dankie aan elke deelnemer en ook aan elke brawe man wat die dag meer pret gemaak het met hul snaakse uitrustings, grimering en hare,” sê Izelle van Staden.



