Twee van Curro slaan goue medaljes los
Lana Naudé en Jasmin de Pontes is genooi om die skool tydens die onlangse Curro Cuesta Nasionale Toneelkompetisie in Pretoria te verteenwoordig.
MBOMBELA – Curro Nelspruit het onlangs weer bewys dat dié skool oor ongelooflike talent beskik en dat alle leerders die geleentheid gebied word om hul potensiaal ten volle te bereik en te ontwikkel.
Lana Naudé en Jasmin de Pontes is genooi om die skool tydens die onlangse Curro Cuesta Nasionale Toneelkompetisie in Pretoria te verteenwoordig. Dít nadat hulle in die streekskompetisie meegeding het, en uit 260 leerders, saam met 25 ander regoor Suid-Afrika gekies is om in die Lynwood-teater in Pretoria mee te ding. Lana in die prosa-afdeling en Jasmin in die dialoogkategorie het beide bo 90 persent vir hul items behaal, en saam die algehele derde plek beklee. Beide het met ‘n goue medalje weggestap.
Gedurende die onlangse o/15A-krieketwedstryd tussen Curro en Bergvlam, het Faheen Nomani die rare prestasie van ‘n driekuns behaal. Dit is drie paaltjies met drie agtereenvolgende balle. Nomani het met sy 4/14 vir Curro gehelp om Bergvlam oortuigend met agt paaltjies te klop.
Eerskomende Vrydag is dit weer tyd vir die skool se Curro Talent Extravaganza – met sang-, dans-, prosa-, klavier- en harp-items. Dit bied leerders die geleentheid om in verskeie genres op te tree en om blootstelling te kry aan professionele klank, beligting en ‘n gehoor. Talle van die skool se eisteddfodleerders, musikante, kore en toneelgroepe tree onder andere op. Die
gr. 10- en 11-leerders wat verbruikerstudie neem is verantwoordelik vir al die dekor, spyskaarte en voorbereiding van die etes. Dit dien dan ook as hul finale praktiese evaluering. Daar is slegs ‘n handjievol kaartjies oor. Navrae: paul.v@curroholdings.co.za.
