Klein kabouters hou eerste konsert
Ek kan met trots sê dat 108 gaste ons eerste konsert bygewoon het. Ons het heerlike potjiekos na die tyd aangebied waar elke mamma, pappa en kabouter lekker saamgekuier het
BURGERSFORT – Op 28 Augustus het trotse ouers die geleentheid gehad om met hul kleingoed te spog toe Kabouterland sy eerste konsert by die NG Kerk aangebied het. Die tema was “Kampvuur” en elke kleinding het die kans gekry om op liedjies soos “Dawid en Goliat”, “Lees jou Bybel”, “Tik-Tok-Tak” en vele meer te sing en dans.
“Ek kan met trots sê dat 108 gaste ons eerste konsert bygewoon het. Ons het heerlike potjiekos na die tyd aangebied waar elke mamma, pappa en kabouter lekker saamgekuier het. Ek wil ook graag dankie sê aan ds. Hennie Grobler, me. Marinda Hartzenberg en elke persoon wat gehelp het om hierdie aand vir die kleingoed spesiaal te maak. Ek is baie trots op elke kabouter wat deelgeneem het. Vir ons eerste konsert was dié ‘n groot sukses,” vertel me. Elana Botha, Kabouterland-eienaar.











