Die Kaapsehoop spul kan vir jou fees vier – ongeag die weer
Dit het gereën. En gereën. En gereën. Toe neem ons maar nog 'n liqueurtjie, né ou perd?
Die verwelkomingsbord by Bohemian Groove Café in Kaapsehoop het Saterdag se Wild Horse Festival heel gepas na die “Wet Horse Festival” herdoop.
Ten spyte van die weer was dié dorpie steeds gasheer vir talle besoekers wat die jaarlikse fees bygewoon het. Toe die reën teen die berghange uitgesak het, moes die inwoners vinnig ‘n plan beraam om opelugstalletjies na onderdak-areas te verskuif. Plaaslike ondernemings het hul stoepruimtes beskikbaar gestel en uitstallers het hulself daar gaan tuismaak.
Hoefsmede het hul vaardighede met groot vernuf ten toon gestel. Dié demonstrasie is op www.lowvelder.co.za te sien. Dit het só gereën dat daar maar min van die dorp se wilde perde te sien was. Die twee wat nuwe hoefysters tydens die demonstrasie gekry het, het ‘n dak bo-oor hul koppe gekry.

Hulle het heerlik onder ‘n gazebo gestaan en wei.
‘n Gewilde teenvoeter vir die koue was tuisgemaakte likeur wat soos soetkoek verkoop het. Wyndrinkers is by verskillende wynproestalletjies getrakteer en die kroeg met karakter, Salvador, het skuiling teen die snerpende koue gebied. ‘n Kaggel in die hoek het gou in ‘n vrolike kuierarea verander.
Die mense van Kaapsehoop is ‘n gesellige klomp wat weer bewys het waarom mense jaar na jaar vir nog ‘n kuier by die fees terugkeer.
























