MBOMBELA – Stropieland se Kersspel het die gehoor verlede week met ‘n vrede wat harte laat sing, geseën. Dié kleuterskool in Steiltes het die Kersverhaal twee aande namekaar by die skool opgevoer.
Die kleuters het asems weggeslaan in hul kostuums wat sommer met die oogopslag duidelik gemaak het wie watter rol vertolk. Drie pragtige engele in wit het die Kersverhaal ingelei deur te vertel dat daar lank gelede ‘n verloofde paartjie was wat ‘n babatjie sou hê.
Hulle name was Josef en Maria. Hierdie twee karakters het op die verhoog verskyn, op soek na blyplek in die stad van Bethlehem, maar ‘n herbergier het bevestig dat daar vir hulle geen blyplek beskikbaar was nie. Hy kon hulle wel in ‘n stal akkommodeer.
Aan die ander kant van ‘n baie mooi versierde verhoog, het herders op die ope velde verskyn.
Die engelekoor het vir hulle vertel dat daar ‘n babatjie met die naam Jesus gebore is en dat hulle die Bethlehem-ster tot by Josef, Maria en baba Jesus in die stal moes volg.
Daar was natuurlik ook ‘n koning, Herodes wat wou verhoed dat Jesus hom onttroon. Sy planne om die drie wyse manne van die baba af weg te hou, was nie suksesvol nie.
Die Kersspel het op ‘n hoendervleis-noot geëindig toe die kleuters die “Onse Vader” gesing het. Die mammas en pappas was ook deel van hierdie wonderlike oomblik.
Me. Jozelle Oberholzer, wat aan die stuur van sake was, het vertel dat dit die skool se 10de Kersspel was.
Sy het haar ma en die geliefde juffrou by wie sy nou leisels oorneem, me. Selma Grobler, bedank vir al die jare se toewyding wat sy in die skool ingeploeg het.






































