Piet Pompies dis eiesoortige vermaak by Stoep op
Hy het met ander kunstenaars gespot en die draak gesteek met rugby-ondersteuners.
MBOMBELA – Piet Pompies is ‘n kunstenaar vol grappe. Sy optrede in Desember by Stoep het vir ‘n musiekfees sowel as ‘n lekker lagsessie gesorg. Dié gesellige knaap het vroegaand saam met die stampvol gehoor gekuier nadat hy homself by die gewilde restaurant se verskeie tafels aan gaste voorgestel het.
Sy persoonlike benadering het vir ‘n gemaklike atmosfeer gesorg. Toe hy die verhoog betree, het applous losgebars voordat hy nog ‘n noot kon uitkry.
Hy het litte losgemaak deur met ‘n hele paar Suid-Afrikaanse kunstenaars te spot. Steve Hofmeyr, Jurie Els, Robbie Klay, Leanie May, Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld en Dozi het almal deurgeloop.
Hy was gaaf genoeg om Laurika Rauch nie persoonlik te spot nie, maar slegs haar lirieke effens te wysig: “Goeiemôre my sonskyn, goeiemôre my kind. Kom ons draf langs die strand, kom ons poep in die wind,” het die stoepsitters laat lê van die lag.
Piet se weergawe van “Midnight Special” is onderbreek toe hy in ‘n kamma-Dozi stem vir Jägermeister gevra het. “Have you ever seen the rain” het daarop gevolg.
Smokie se treffer, “Alice” het die gehoor spontaan laat saam skreeu: “Alice, who the *&^% is Alice?” waarna Piet vasdansers genooi het om vorentoe te kom vir ‘n bietjie “yskas skuif,” soos hy dit noem.
“Plaasdorp het beïndruk,” waarna Piet weer ‘n ligte oomblik verhoog toe gebring het toe hy Nataniël namaak.
‘n Bietjie rugbypolitiek was ook deel van die aand se verrigtinge. Hy het “Province” se lirieke só verbuig dat die Curriebeker nooit weer daarheen sal teruggaan nie. “The lion sleeps tonight” het hy Leeus-ondersteuners gekoggel en “Vissies is maar net soos jy” het met die Haaie die spot gedryf.
Piet se “Dit wat jy doen aan my” het weer vir ‘n meer musikale oomblik gesorg. Te oordeel aan die gehoor se dawerende applous, is hy altyd welkom hier in Mbombela.















