Dawie Roodt loods Efficient tak in Mbombela
Werner Oosthuizen is as toevoeging tot die groep verwelkom.
MBOMBELA – Bekende ekonoom mnr. Dawie Roodt het plaaslike finansiële adviseur, mnr. Werner Oosthuizen, verlede week by Efficient Advise verwelkom. Efficient Advise is die finansiële beplanningsafdeling van die JSE-genoteerde finansiële dienstemaatskappy, Efficient Group. Oosthuizen is die tweede plaaslike finansiële adviseur wat die nasionaal gerekende groep in die Laeveld verteenwoordig.
‘n Groot groep plaaslike beleggers het die geleentheid by die Mercure Hotel bygewoon. Die land se ekonomiese toestand en die dreigende afgradering van buitelandse skuld na
rommelstatus het baie vrae ontlok. Roodt se insiggewende toespraak het bevestig dat Suid-Afrikaanse beleggers talle uitdagings in die gesig staar. Hy het voorstelle gegee vir optimale beleggingsbestuur en beklemtoon dat ‘n bevoegde finansiële adviseur beleggers deur dié moeilike tye in die rigting van sukses kan begelei.
Roodt, wat voorgestel is deur kollega mnr. Willem Basson, het verwys na die politieke situasie in die land en die ekonomiese onstabiliteit wat dit teweegbring. Die heersende ANC-party, wat deel vorm van die sogenaamde drie-party-alliansie, dra volgens Roodt tot ‘n groot mate hiertoe by.
“Mnr. Nhlanhla Nene is in Desember as minister van finansies vervang deur mnr. David van Rooyen. Laasgenoemde is vier dae later opgevolg deur mnr. Pravin Gordhan,” het Roodt gesê. Besluite soos hierdie en ideologiese teenstrydighede dra volgens hom tot die ekonomiese onstabiliteit in die land by. “Protesaksies oor dienslewering het oraloor opgeduik,” het hy bygevoeg en ook verwys na stygende kospryse.
Roodt het beklemtoon dat alle hoop nie verlore is nie: “Ons openbare beskermer funksioneer steeds goed,” het hy gesê. Die hof se beslissing teen Zuma se optrede in die Nkandla-debakel het Roodt se geloof in die konstitusionele hof bevestig. “Alhoewel ons nog nie afgegradeer is na rommelstatus nie, behoort dit voor die einde van die jaar waargeneem te word.”
Hy het beleggers geadviseer om geld in die buiteland te belê. Voornemende beleggers hoef, volgens Roodt, nie afstand te doen van die idee om te belê wanneer hulle heersende omstandighede in ag neem nie. Hy het beklemtoon dat Efficient Advise beleggers se belange op die hart dra.
Oosthuizen, honneurs graduandi en gesertifiseerde finansiële beplanner met nege jaar se ondervinding, sien uit daarna om plaaslike beleggers te help om hulle potensiaal te verwesenlik.
Hy volg ‘n oplossingsgedrewe benadering en sy kliënte trek voordeel uit risiko- en belegging-strategieë wat getuig van sy holistiese, vooruitstrewende benadering. “Ek het direkte kontak met bekende handelsname, soos onder andere Dawie Roodt.
“My assosiasie op hierdie vlak verskaf toegang na ‘n uitgebreide bemarkingsnetwerk asook eerstehandse kennis van wat agter die ekonomiese skerms aan die gebeur is – kennis van die allergrootste belang om geskikte diens en ondersteuning aan u te lewer,” het Oosthuizen gesê. “Dink Efficient. Verwesenlik potensiaal.” is die frase wat Oosthuizen se benadering beliggaam.
Was jy daar?








