Galleries

Foto’s: Nellies se eeufeesvieringe

Die regte skool vir die regte redes - vir 100 jaar lank.

MBOMBELA – “Om ‘n Nellie te wees is ‘n fees!” Hierdie woorde van Laerskool Nelspruit se skoolhoof, mnr. Arrie Henn, het die atmosfeer by Laerskool se 100-jarige feesweek opgesom.

Die skool se eeufeesvieringe het op 9 September afgeskop en is Saterdagaand voltrek met ‘n konsert deur sangeres Juanita du Plessis. Haar liedjie, “Kaalvoetkinders,” het groot waardering by Nellies en Nellie-ouers ontlok. “Hier by Laerskool Nelspruit is kinders nog kinders!” het Henn opgemerk.

Die skool se verjaardagvieringe het verlede Vrydag met ‘n koorfees afgeskop. “Agt kore het deelgeneem en die Mpumalanga Jeugkoor was die hoof-item,” het die skool se adjunkhoof, mnr. Adé Adendorff, gesê.

Die skool se talentkompetisie, “Nellies het talent”, het meer as 50 deelnemers die kans gegee om vanaf Maandag op die verhoog te skitter. ‘n Pa-en-seun-krieketdag is opgevolg deur ‘n wedstryd waarin die onderwysers en die pa’s kragte gemeet het. “Hier het die pa’s die oorhand gehad,” het Adendorff erken.

Dinsdag se netbal vir mammas en onderwysers was vol sports. Geen wenspan is aangewys nie, maar die onderwysers se Superheroes-span het met die geesbeker weggeloop.

Woensdag se modeparade het ‘n “Van Toeka tot Nou”-tema gehad en die gr.12-dogters het in hul matriek-afskeidrokke geparadeer.
“Dit was vir die kinders ‘n groot bederf en ‘n baie lekker aand,” het Adendorff gesê. Daar was ook ‘n nege-putjie-‘Kortgatgholf’-kompetisie op die skoolterrein en die Nellies het Vrydagoggend almal saam ontbytpap geëet.

“Ons het gepoog om ‘n nuwe wêreldrekord op te stel deur die meeste mense te wees wat op een slag Kellogg’s eet,” het Adendorff verduidelik. ‘n Kaskardag en boeresportspele het ook vir groot pret gesorg.

Vrydag se waterkaskenades is op ‘n omgewingsvriendelike manier aangepak. Groot springkastele en opblaasglybane is gebruik eerder as tradisionele waterglybane. ‘n Skuimmasjien het skuimbolle die lug ingestuur en die kinders het daarin baljaar. Daar was darem ‘n plaspoeletjie of twee teen die koue, waarvan die water later hergebruik is.

Vrydagaand se inlê-fliek en braai was ‘n gesellige sosiale geleentheid.

Gunjwa Primary se dansers en trompoppies het Saterdag die Nellies vermaak en ‘n massa-gimnastrade het al 1 300 van die skool se leerlinge betrek.

Saterdagaand se vertoning deur Juanita du Plessis was ‘n feesweek-hoogtepunt. Die gewilde sangeres het Laerskool Nelspruit gelukgewens met ‘n eeu se leer, speel en suksesse. “Oor nog 100 jaar vier ons weer fees,” het sy gesê.

Die skool se waardes bied leerlinge al vir jare daardie “ietsie ekstra”. By Laerskool Nelspruit is elke Nellie ‘n lid van die wenspan. Leerlinge behandel mekaar met deernis en elkeen se stem geld. Die week se feesvieringe het weer bewys dat Laerskool Nelspruit ‘n skool is waar daar volgens sterk waardes geleef en geleer word. “Die regte skool vir al die regte redes” is nie net ‘n leuse nie. Die Nellies leef dit.

Was jy daar?  Soek jouself op hierdie foto’s:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button